Nuus 11:00
BULLETIN 21 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie verdagtes word in hegtenis geneem in verband met die moord op die negende Ekurhuleni-slagoffer
# Die Afrika-redakteursforum vra Djiboeti besonderhede oor ‘n vermiste Suid-Afrikaanse joernalis
# En krieket: Die Protea-vroue se afrigter is tevrede met die groep se diepte na die besoek aan Zimbabwe
# Die polisie het ‘n man en twee vroue aangekeer in verband met die negende vrou wat verlede week in Ekurhuleni dood aangetref is. Die liggaam van die 28-jarige Gracious Nkomo is in ‘n laken toegedraai gevind in Dawnpark, Boksburg. Vyf vroue is in Kemptonpark vermoor, twee in Olifantsfontein, een in Kwathema en een in Dawnpark. Nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die drie sal vandag in die Boksburgparkse Landdroshof verskyn:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrikaners moet hulself voorberei op die ergste moontlike scenario rondom betrekkinge met Amerika. Die Amerikaanse regering het nuwe visumbeperkings ingestel weens beweerde diskriminerende beleid. Lamola lei dié week die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die 81ste sitting van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York. Hy het aan die SABC gesê Suid-Afrika het die soewereine reg op wette wat rasse-onreg hanteer:
# Die Afrika-redakteursforum is bekommerd oor die verdwyning van die Suid-Afrikaanse ondersoekende joernalis Micah Reddy en sy plaaslike gids , Kooki Mahmoud, in Djiboeti, Oos-Afrika. Hulle het Saterdag verdwyn. Reddy is die Afrika-koördineerder van die Internasionale Konsortium van Ondersoekende Joernaliste. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking weet van hulle verdwyning. Die forum se sekretaris-generaal, Sbu Ngalwa, sê hulle vra duidelikheid van Djibouti se owerhede oor waar Reddy en Mahmoud is:
# Voorlopige uitslae in Rusland se eerste parlementêre oorlogstyd-verkiesing, toon die hoofparty in die Kremlin oorheers die verkiesing. Volgens aanvanklike inligting deur die Sentrale Verkiesingskommissie is die Verenigde Rusland-party, wat president Vladimir Putin ondersteun, die voorloper met bykans 58-persent van die stemme. Betekenisvolle opposisie bestaan feitlik nie in Rusland nie, met kritici wat verbied word om deel te neem, in die tronk sit, of in ballingskap in die buiteland leef. Die liberale Yabloko-party, wat deur die Hooggeregshof van die stembrief verwyder is, het ongeveer 100 kandidate wat in individuele kiesafdelings meeding.
# Krieket: Die Protea-vroue se hoofafrigter, Mandla Mashimbyi, sê hulle het hul doelwitte op die Zimbabwiese toer bereik en ook meer spelers ʼn geleentheid gegee. Suid-Afrika het 5-0 skoonskip gemaak in hul geskiedkundige eerste T20-reeks teen hul buurvroue. Kaptein Laura Wolvaardt en Miané Smit het uitstaande vertonings gelewer en honderdtalle aangeteken. Annerie Dercksen het in die derde wedstryd vyf paaltjies laat kantel. Mashimbyi sê alle spelers wat van nou af gekies word, kan vir 2029 se Wêreldbekertoernooi in aanmerking kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-746-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-348-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 102-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………