Nuus 08:00
BULLETIN 20 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier Geordin Hill-Lewis bring hulde aan Ekurhuleni-vroue
# COSATU vra versekering oor afgetrede soldate se mediese dekking
# En sokker: Mamelodi Sundowns wen die Afrika-Asië-Stille Oseaan-beker
# Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, het hulde gebring aan die nege vroue wat in Ekurhuleni vermoor is en kranse gelê ter nagedagtenis aan hulle. Die liggame is binne minder as twee maande in die munisipaliteit ontdek. Hill-Lewis sê vroue moet sonder vrees in hul gemeenskappe kan leef. Hy vra meer sigbare wetstoepassing, verbeterde beligting en toesig, en meer samewerking tussen wetstoepassing en gemeenskappe:
Intussen het Raadslid Palesa Yates van die African Christian Democratic Party gesê die polisie het vroue in die steek gelaat. Yates meen doeltreffender patrollies deur die Ekurhuleni-metropolisie kon die moorde voorkom het. Sy het die owerhede gekritiseer omdat hulle te lank geneem het om alarm te maak oor ‘n moontlike reeksmoordenaar. Sy het ook die afdanking van Julius Mkhwanazi, die voormalige adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, ná ‘n dissiplinêre proses verwelkom:
# Die vakbondfederasie COSATU, vra die regering om afgetrede militêre personeel te verseker hul mediese dekking is nie in die gedrang nie. Die vakbondfederasie is bekommerd oor berigte dat die mediese fonds vir oudlede van die Staandemag moontlik vanaf November nie sy verpligtinge sal kan nakom nie. COSATU sê sowat 21-duisend voormalige SANW-lede en hul afhanklikes kan geraak word. Matthew Parks van COSATU sê die Tesourie moet dringend aandag gee aan ‘n beraamde maandelikse tekort van 40-miljoen-rand:
# Vlamme en pluime swart rook is naby Riyad se hooflughawe opgemerk nadat Saoedi-Arabië oornag waarskuwings uitgereik het oor moontlike lugaanvalle. Houthi-rebelle in Jemen het later beweer hulle het sensitiewe teikens in die hoofstad met missiele en hommeltuie aangeval. Foto’s deur Reuters wys die vlamme agter brandstofopgaartenks naby die King Khalid Internasionale Lughawe. Saoedi-Arabië se burgerlike beskermingsdienste het later aangedui die gevaar is verby. Die Houthi-rebelle het ook aanspreeklikheid aanvaar vir ‘n aanval op ‘n Aramco-aanleg in die Rooisee-hawestad Yanbu.
# Sokker: Mamelodi Sundowns het die Asiatiese kampioen Al Ahli 2-1 gister op Loftus Versfeld geklop om die Afrika-Asië-Stille Oseaan-beker te wen en deur te dring na die FIFA-interkontinentale beker. Die Portugese doelskieter Nuno Santos het Sundowns in die 17de minuut met ‘n kopskoot laat voorloop en die wedstryd nege minute voor die einde met sy tweede doel beklink. Al Ahli se enigste punt was ‘n eie doel deur Sundowns-doelwagter, Ronwen Williams. Sundowns speel volgende teen die Mexikaanse klub Toluca óf die wenner van die Copa Libertadores, met ‘n plek in die eindstryd teen Paris Saint-Germain op die spel.
# En, motorsport: Suid-Afrika sal sy eerste internasionale 24-uur-uithouwedren aanbied wanneer die Kyalami Grand Prix-renbaan van 8 tot 10 Januarie 2027 die Michelin 24-uur Kyalami aanbied. Die geleentheid vier die Michelin 24-uurreeks se debuut op die Afrika-vasteland. Die organiseerder, Creventic, het die vlagskipwedren uit Dubai verskuif weens geopolitieke onsekerheid en stygende bedryfskoste. Creventic se hoofbestuurder, Helen Roukens, het bevestig dat registrasies vir die wedren reeds oop is, met drie eksklusiewe toets- en baanbyeenkomste wat beplan word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….