Nuus 09:00
BULLETIN 20 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement Basiese Onderwys keur die 2026-Grondslagfasekatalogus goed
# Groenland en Denemarke sê die Trump-ooreenkoms sal nie hul soewereiniteit bedreig nie
# En krieket: Die Protea-vroue maak skoonskip in die T20-reeks teen Zimbabwe
# Die Departement van Basiese Onderwys sê sy Nasionale Grondslagfase-katalogus vir 2026 is goedgekeur, wat die weg baan vir provinsiale verkryging. Woordvoerder Terence Khala sê die besluit volg na ondersoeke deur die Ouditeur-generaal, ‘n onafhanklike ondersoek en regskenners wat bevind het daar was geen bedrog of begunstiging nie. Khala sê provinsies is reeds betrek by die verkrygingsproses met die departement wat aflewerings betyds vir die nuwe akademiese jaar wil verseker:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens vra die publiek om nie foto’s te versprei van mense wat na bewering met die moorde op vroue in die Ekurhuleni-gebied verbind word nie. Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die SAPD het nog geen skets van ‘n verdagte, gesoekte-plakkaat of foto van ‘n verdagte in verband met die sake uitgereik nie. Sy beklemtoon elke leidraad word opgevolg en amptelike bywerkings sal uitreik word indien nodig:
# Die Activists and Citizens Forum het die verlenging van die Madlanga-ondersoekkommissie tot 25 Januarie verwelkom. Woordvoerder Dennis Bloem sê die kommissie het ernstige probleme binne die strafregstelsel aan die lig gebring. Bloem het die kommissarisse, getuienisleiers en ondersoekers geprys vir tasbare resultate, insluitend skorsings, afdankings en arrestasies. Hy sê die bykomende tyd moet die volle omvang van korrupsie en misdadigheid blootlê:
# Groenland en Denemarke sê ‘n nuwe ooreenkoms met Amerika bedreig nie Groenland se soewereiniteit nie, ondanks president Donald Trump se uitlating dat Washington permanente beheer oor veiligheid op die eiland sal hê. Reuters berig die ooreenkoms sal na verwagting voorsiening maak vir ‘n groter Amerikaanse militêre teenwoordigheid in Groenland, maar die gebied bly onder Deense soewereiniteit. Besonderhede rakende die ooreenkoms, insluitend die omvang van Amerikaanse teenwoordigheid en enige bepalings oor buitelandse beleid of natuurlike hulpbronne, is nog nie bekend gemaak nie. Die ooreenkoms sal na verwagting tydens die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering bekragtig word.
# Krieket: Die Protea-vroue het die T20-internasionale reeks teen Zimbabwe met vyf oorwinnings ingepalm nadat hulle gister die laaste wedstryd met 13 lopies in Bulawayo gewen het. Suid-Afrika het 164 vir ses aangeteken, met Kayla Reyneke onoorwonne op 34 en Anneke Bosch wat 33 lopies bygedra het. Zimbabwe het op 103 vir twee gelyk of hulle nog ‘n kans het, maar die Protea-boulers het gereeld paaltjies laat kantel en die tuisspan tot 151 vir agt beperk. Nthabiseng Nini en Ayanda Hlubi het elk drie paaltjies geneem. Dit was die eerste bilaterale T20-reeks tussen die twee lande.
En laastens, ander krieketnuus, Engeland is terug bo-aan die T20-ranglys nadat hulle al drie wedstryde in ‘n reeks teen Sri Lanka gewen het, met ‘n oorwinning van agt paaltjies in die finale wedstryd in Manchester. Sri Lanka is vir 124 lopies uitgeknikker, met Sonny Baker, Will Jacks en Jofra Archer wat elk twee paaltjies geneem het. Engeland het hul teiken in minder as 10 boulbeurte bereik, met ‘n onoorwonne 62 lopies deur Jos Buttler. Harry Brook het 33 aangeteken en as speler van die reeks aangewys. Die oorwinning was Engeland se 15de agtereenvolgende T20-sege oor Sri Lanka.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….