Nuus 16:00
BULLETIN 15 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Johannesburgse Metropolisie se hoof van Interne Sake lig sleuteluitdagings by die Madlanga-kommissie uit
# Sasol verskaf groener brandstof vir Antarktika-vlugte
# En tennis: Sinner kondig ‘n veeleisende skedule aan om sy nommer-een-status te beskerm
# Die Johannesburgse Metropolisie se hoof van Interne Sake, Elmarie de Beer, het ernstige bedryfsuitdagings voor die Madlanga-kommissie uitgelig. Sy sê daar is slegs 38 personeellede, wat nie genoeg is om die werklas doeltreffend te hanteer nie. De Beer sê ondersoeke duur dikwels langer om te voltooi weens beperkte ondersoekvermoë, veral dié wat met wangedrag en korrupsie verband hou. Sy sê stappe word intussen gedoen om bykomende ondersoekbeamptes aan te stel:
# DA-leier Geordin Hill-Lewis sê die ontdekking van ses vroue se liggame in Ekurhuleni, Gauteng, sedert Julie toon die behoefte aan strenger optrede teen geweldsmisdaad. Hy sê die regering moet ondersoeke verskerp en verseker die skuldiges word aan die man gebring. Hill-Lewis vra groter sigbare wetstoepassing, beter beligting en waarneming, en nouer samewerking tussen die polisie en gemeenskappe:
# Die Suid-Afrikaanse petrochemiese groep Sasol het ‘n brandstofverskaffings-ooreenkoms met die Antarktiese verkenningstog-onderneming White Desert onderteken ter ondersteuning van vlugte na die afgeleë vasteland. Sasol sê die ooreenkoms behels die verskaffing van stralerbrandstof aan White Desert se vlugte na Antarktika, wat wetenskaplikes, toeriste en ondersteuningspanne na die vasteland vervoer. Die brandstof sluit volhoubare stralerbrandstof in wat vervaardig word van gebruikte kookolie en plantaardige olies wat vlugte se koolstofvoetspoor sal verminder. White Desert bedryf privaat stralervlugte tussen Kaapstad en Antarktika.
# Tennis: Die Italianer Jannik Sinner het ‘n veeleisende skedule aangekondig in sy strewe om die jaar as wêreld-nommer-een af te sluit. Alexander Zverev van Duitsland het die gaping tussen hulle verklein toe hy die Amerikaanse Ope gewen het nadat ‘n knieprobleem Sinner uit die hele Noord-Amerikaanse hardebaanseisoen gehou het. Sinner beplan om aan verskeie toernooie deel te neem voor die ATP-eindtoernooi in Turyn in sy geboorteland in November. Hy het in April weer nommer-een geword en in Julie Wimbledon gewen vir sy vyfde Grand Slam-titel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-934-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-272-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika vier vandag Internasionale Dag van Demokrasie en Build One South Africa sê 50-dae voor die plaaslike regeringsverkiesing ‘n stem vir ‘n kleiner party is nie ‘n verlore stem nie. Graham Charters van die party sê gevestigde partye baat by die wanopvatting dat slegs hulle ‘n werklike kans staan om te regeer. Charters sê Suid-Afrika het ‘n koalisietydperk betree en kiesers moet partye steun wat hul waardes die beste weerspieël:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….