Nuus 15:00
BULLETIN 15 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n AfriForum-verslag werp lig op die wreedheid van plaasaanvalle
# Die saak teen die beleërde sersant Fannie Nkosi is uitgestel vir verdere vertoë
# En krieket: Taylor van Zimbabwe steek Tendulkar verby as die speler met die langste eendag-loopbaan
# ‘n Verslag deur AfriForum ná die ondersoek na 47 gewelddadige plaasaanvalle tussen 2019 en 2025, dui op ‘n herhalende patroon van marteling. Daarvolgens is slagoffers gebrand, gesteek, verwurg en seksueel mishandel. Jacques Broodryk van AfriForum sê plaasaanvalle kom in al nege provinsies voor, en vra die regering om dit te erken as ‘n misdaad wat dringende aandag en spesialis-reaksie vereis. Broodryk vra ook dat slagspreuke soos “Kill the Boer” veroordeel word:
# Die geskorste misdaadintelligensie-lid, sersant Fannie Nkosi, wil hê die Nasionale Vervolgingsgesag moet die aanklagte teen hom heroorweeg. Hy het vlugtig in die Landdroshof in Pretoria-Noord verskyn waar hy teregstaan op aanklagte in verband met vuurwapens en regsverydeling ná ‘n polisieklopjag op sy woning in April. Nkosi word ook daarvan beskuldig dat hy homself as ‘n senior polisie-offisier voorgedoen en dagga gesteel het in Thohoyandou. Sy regsverteenwoordiger, Katlego Raleho, sê skriftelike vertoë sal binne die volgende twee weke aan die direkteur van Openbare Vervolgings voorgelê word.
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering se Vrouekommissie veroordeel die voortslepende en wrede moorde op vroue in Kemptonpark en elders in die land. Dit volg nadat die liggame van ses vroue binne twee maande in die Kemptonparkse omgewing ontdek is. Nomvuyo Mposelwa van SALGA vra dringende, daadwerklike en gesamentlike optrede om die geweld hok te slaan en vroue teen verdere leed te beskerm:
Nuus uit die buiteland:
# Irans-gesteunde Houthi-rebelle het ‘n nuwe vlaag aanvalle op Saoedi-Arabië uitgevoer en hul posisie verder versterk langs Jemen se weskus aan die Rooisee. Dit het tot dringende beraadslagings in die hoofstad, Rijaad, gelei oor hoe om op die aanvalle te gereageer. Arabiese Golfstate het intussen beplande samesprekings met Iran oor die Seestraat van Hormoes uitgestel, en vrese neem toe die konflik in die Midde-Ooste kan uitkring en wêreldwye olievoorrade verder ontwrig. Die Houthi-rebelle se jongste opmars, insluitend die oorname van Perim-eiland, plaas verdere druk op Saoedi-Arabië se olie-uitvoere.
# Krieket: Brendan Taylor van Zimbabwe het Sachin Tendulkar verbygesteek as die speler met die langste loopbaan in internasionale eendagkrieket. Die Indiese legende het in 2012 uit dié formaat getree ná ‘n loopbaan van 22-jaar en drie-maande. Die 40-jarige Taylor het dié rekord verbeter tot 22-jaar en vier-maande in die eerste eendagwedstryd teen Australië wat tans in Harare gespeel word. Hy het in 2004 sy buiging vir sy land gemaak en sedertdien 207 wedstryde gespeel, waarin hy meer as ses-duisend-700 lopies gemoker het, insluitend elf honderdtalle.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-959-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-283-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….