Nuus 11:00
BULLETIN 15 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Gwede Mantashe sê COSATU moet ná sy kongres meer verenig wees
# Die EFF sê die polisie kom te laat agter die kap van die byl om die Kemptonparkse moorde te voorkom
# En krieket: Engeland se afrigter, Brendon McCullum, glo die mentor Kevin Pietersen gaan die span nuwe lewe gee
# Die ANC se nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, sê die vakbondfederasie COSATU moet tydens sy 15de nasionale kongres werk aan oplossings vir sy interne probleme. Die kongres in Midrand, Johannesburg, het gister in chaos verval na die skorsing van adjunkpresident Mike Shingange. NEHAWU het sy steun onttrek vir Shingange, wat sy president is, terwyl NUM, SAMWU, DENOSA en SACCAWU hom steeds ondersteun. Mantashe sê COSATU moet sterker en meer verenig anderkant uitkom:
# AfriForum sê die Nasionale Waterwet maak nie regstelling ’n afsonderlike vereiste waaraan voldoen moet word voordat ’n aansoek om ’n waterlisensie oorweeg kan word nie. Die organisasie betwis ’n vereiste op die Departement van Water en Sanitasie se aanlyn stelsel wat van aansoekers verwag om aan te toon hoe hul voorgestelde watergebruik vorige rasse- en geslagsdiskriminasie sal hanteer. Woordvoerder Marais de Vaal sê dit kan belegging, werksgeleenthede en produktiewe watergebruik raak:
# Die EFF sê hy verwerp ‘n polisiekultuur wat die verdwyning van vroue as ‘n nie-dringende en gewone saak beskou totdat gesinne en gemeenskappe genoeg druk op hulle plaas om te reageer. Dit volg op die ontdekking van die liggame van ses vroue in Kemptonpark, Ekurhuleni, oor die afgelope twee maande. Die EFF sê meer as een vrou se liggaam is volgens berigte in die omgewing ontdek voordat die polisie opgetree het. Hy sê dit laat ernstige vrae ontstaan oor die polisie se bekwaamheid en gewilligheid om geweldspatrone te identifiseer.
# Krieket: Engeland se witbal-hoofafrigter, Brendon McCullum, hoop die gewese kaptein, Kevin Pietersen, se groot persoonlikheid en mededingingsgees sal die spelers aansteek. Pietersen het aangesluit as ‘n spesialis-mentor tot volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië. Hy het Sondag in Southampton by die span aangesluit voor die eerste van drie T20- en drie eendagwedstryde teen Sri Lanka, wat môre begin. McCullum sê Pietersen maak reeds ‘n reuse-verskil:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-260-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-292-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Apple TV se riller-komedie Widow’s Bay het oorheers op die 78ste Emmy-toekennings in Los Angeles, waar dit 14 toekennings ontvang het, insluitend beste komediereeks en Kate O’Flynn vir beste ondersteunende aktrise. Matthew Rhys het die eerste akteur in Emmy-geskiedenis geword om as beste akteur vir rolle in verskillende reeks in een jaar te word, naamlik in Widow’s Bay en The Beast in Me. Jean Smart het op haar beurt geskiedenis gemaak met haar vyfde opeenvolgende toekenning vir haar rol in Hacks. The Pitt het sewe toekennings ontvang, insluitend Beste Dramareeks en Noah Wyle as Beste Akteur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….