Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die kunsmis en plofstofgroep, OMNIA, gaan moontlik aan die Johanneburgse Effektebeurs onttrek nadat Solar SA ‘n aanbod van 134-rand-50-sent per aandeel gemaak het. Die stap gaan bykomende kapitaal beskikbaar stel en die geleentheid bied om in nuwe tegnologie uit te brei.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig COSATU se 15de nasionale kongres het in chaos ontaard en die afgevaardigdes huis toe gestuur nadat ‘n geskil oor die status van die president van NEHAWU, Mike Shingange, wat glo in aanloop tot die kongres deur die vakbond gerskors is.
En tweedens skryf die webblad twee vermeende taxi-base is in hul motor op die kampus van die Universiteit van Johannesburg doodgeskiet.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die sewe verdagtes wat in verband met die Emfuleni-eletrisiteitsbedrogsaak in die hof verskyn het, is elk borgtog van 20-duisend-rand toegestaan. Hulle is na bewering betrokke by ‘n bedrogskema ter waarde van miljoene rand.
# Sowetan:
Berig die polisie se nasionale adjunkkommissaris, luitenant-generaal Tebelo Mosikili, sê die moordenaar of moordenaars van die vyf vroue in Kemptonpark moet weet die polisie gaan hulle vastrek.
# En The Citizen:
Lei met “WOMEN’S KILLER DUMPING GROUND.” Die koerant skryf ook oor die vyfde liggaam van ‘n vrou wat in die Kemptonpark-omgewing ontdek is en ‘n voorval waar nog ‘n vrou ontsnap het toe ‘n man haar wou ontvoer.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die gru-ongeluk op die N1 naby Leeu-Gamka waarin 21 mense dood is. Twee minibus-taxi’s en ‘n sewe-sitplek Suzuki Brezza was in die ongeluk betrokke. Die twee taxi’s het reg van voor gebots.
Dan word berig oor die miljoene rand wat sogenaamde elite skenkers aan politieke partye betaal vir die plaaslikeregeringsverkiesing in November.
En laastens is daar nuus oor Siya Kolisi en Rassie Ersmus wat poenskop is ná ‘n weddenskap.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die gemoedere loop steeds hoog in George nadat ‘n leerder wat betrokke was by ‘n aanval in die koshuis van die Hoërskool Pacaltsdorp in die hof verskyn het.
En tweedens skryf die koerant die omstrede politikus, Andile Lungisa, gaan homself na die hof wend nadat hy glo doelbewus van die ANC se kandidatelys verwyder is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Spesiale Ondersoekeenheid stel ondersoek in na die sekuriteit van die eThekwini-munisipaliteit.
En tweedens word berig oor die vrese dat ‘n reeksmoordenaar verantwoordelik kan wees vir die moord op vyf vrouens in Kemptonpark.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n houtskoolprodusent is ’n boete van agt-duisend-rand opgelê vir die veldbrand wat meer as 10-duisend hektaar in die Omaruru-distrik vernietig het.
En tweedens skryf die koerant die onafhanklike voorspeller. LandWater, sê daar kan nog reën en koue weersomstandighede in die suide van Namibië voorkom.