Nuus 16:00
BULLETIN 14 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die vermiste Kemptonparkse drawwer Elizabeth Moselakgomo se liggaam word positief uitgeken
# Julius Mkhwanazi kry borgtog van tien-duisend-rand maar bly in aanhouding
# En rugby: Rassie hoop die toets in Baltimore sal die spel in Amerika uitbrei voor 2031 se Wêreldbekertoernooi
# Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, sê die polisie sal alles moontlik doen om diegene op te spoor wat verantwoordelik is vir die moord op vroue in Kemptonpark, Gauteng. Dit volg op die ontdekking van ‘n vyfde liggaam, terwyl ondersoeke na verskeie sake in die gebied voortduur. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die vermiste drawwer, Elizabeth Moselakgomo, se gesin het haar liggaam in die Germistonse lykshuis uitgeken. Mathe sê ‘n gespesialiseerde polisiespan werk onverpoos om vas te stel wat gebeur het.
# Die Germistonse Landdroshof in Gauteng het borgtog van tien-duisend-rand toegestaan aan die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, in die sogenaamde blouligsaak. Dit hou verband met bewerings oor die ongemagtigde installering van blouligte op privaat voertuie wat aan die sakeman Vusimusi “Cat” Matlala behoort. Mkhwanazi bly egter in aanhouding in verband met die moord op die sakeman Emmanuel Mbense in 2022 – ‘n saak wat in die Brakpanse Landdroshof dien. Daar word verwag dat die hof môre uitspraak sal lewer oor borgtog in dié saak.
# Die vakverbond SAFTU ondersteun die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, se vasbeslotenheid dat senior amptenare betekenisvolle en onafhanklike leefstyloudits moet indien. Dit volg nadat direkteur-generaal Mathanzima Mweli Gwarube se opdrag vir ‘n leefstyloudit deur die Spesiale Ondersoekeenheid geïgnoreer het. SAFTU se woordvoerder, Asive Dyani, sê niemand wat met staatsmag en staatshulpbronne vertrou word, moet die reg hê om self te besluit of hulle aan ʼn wettige ondersoek na korrupsie onderwerp gaan word nie:
# Die speaker van Belize se Huis van Verteenwoordigers, Valerie Woods, het Suid-Afrika se pad na demokrasie as ‘n kragtige les vir parlemente wêreldwyd geloof. Sy het op die Statebond-parlementsvereniging se Kleintakke-konferensie in Kaapstad gepraat. Woods het Suid-Afrika se oorgang van apartheid en verskuiwing na ‘n grondwetlike demokrasie, gelykheid en menswaardigheid benadruk. Sy sê dit herinner parlementslede aan hul plig om burgers te verteenwoordig, demokratiese waardes te handhaaf en onafhanklikheid te versterk:
# Rugby: Die Springbokke is oorweldig deur die ondersteuning wat hulle in Amerika ontvang het waar hul in Baltimore die Rugby Greatest Rivalry-reeks teen die All Blacks beklink het. Meer as 68-duisend toeskouers het die M&T Bank-stadion volgepak toe Suid-Afrika Nieu-Seeland 43-28 verslaan en die reeks 3-1 beklink het. Die Bokke het vroeër ‘n hartlike ontvangs op die lughawe gekry en bewonderaars het hulle in die stad voorgekeer. Afrigter Rassie Erasmus hoop die ervaring sal die spel uitbrei in Amerika, wat die Wêreldbekertoernooi in 2031 aanbied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-912-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-285-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 110-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….