Nuus 18:00
BULLETIN 11 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa moedig BRICS aan om meer te doen as om slegs onverwerkte grondstowwe uit te voer
# Die Verkiesingskommissie vra die Verkiesingshof om die ANC se appèl oor sy kandidatelyste van die hand te wys
# En, sokker: Die Polokwane City-speler, Manuel Kambala, is opgeroep om vir Mosambiek se Mambas te speel
# President Cyril Ramaphosa sê die BRICS-lande moet ekonomiese samewerking versterk en verder gaan as om bloot net handel te dryf met onverwerkte grondstowwe. Ramaphosa het tydens die dialoog tussen leiers by die BRICS-sakeforum in Nieu-Delhi, Indië, gevra vir meer belegging in vervaardiging en plaaslike produksie, die veredeling van minerale, energie, infrastruktuur en logistiek. Hy het gesê Afrika moet nie voort gaan met die uitvoer van minerale nie, terwyl ander lande voordeel trek uit die verwerking en vervaardiging van grondstowwe:
# Die Verkiesingskommissie het die Verkiesingshof gevra om die ANC se appèl oor kandidatelyste vir ses munisipaliteite van die hand te wys. Die betrokke munisipaliteite is in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Vrystaat. Die OVK sê die ANC het versuim om sy lyste voor die sperdatum in te dien en verwerp bewerings dat tegniese probleme met sy aanlyn stelsel die vertraging veroorsaak het. Mahlengi Bhengu van die ANC sê tegniese foute het die party se amptenare verhinder om die indieningsproses te voltooi:
# Die Gautengse Departement van Gemeenskapsveiligheid versoek motoriste en die publiek om bedag te wees op misdadigers wat hulle voordoen as polisielede of verkeersbeamptes. Dit volg nadat ‘n Gautengse Verkeerspolisie-uniform en ‘n gesteelde Chery Tiggo 7 in ‘n eiendom in Dawnpark gevind is. Die Gautengse verkeerspolisie se woordvoerder, Sello Maremane, raai die publiek aan om nie self teen moontlike vals beamptes op te tree nie en nooit geld, dokumente of persoonlike besittings aan hul te oorhandig nie:
# Twee bekende demokrasie-aktiviste in Hongkong is tot meer as sewe jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van ondermyning ingevolge Hongkong se nasionale veiligheidswet. Lee Cheuk-yan is tot sewe jaar tronkstraf gevonnis, en die menseregte-prokureur, Chow Hang-tung, is sewe jaar en drie maande opgelê. Albei was leiers van die ontbinde Hong Kong Alliance, wat jaarlikse herdenkingsgeleenthede gereël het om die Tiananmen-plein-gebeure van 1989 te herdenk. ‘n Derde leier, Albert Ho, is vroeër tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuld erken het. Die vonnisse volg te midde van toenemende druk op politieke teenstand in Hongkong.
# Die middelveld-speler van Polokwane City, Manuel Kambala, is opgeroep vir Mosambiek se span in komende internasionale wedstryde. Die 34-jarige draf gereeld vir die Mambas uit en het sy land in die Afrikabeker-toernooi verteenwoordig. Kambala het goed begin in die nuwe Premierliga-seisoen, met Polokwane City wat onder die vroeë voorlopers tel. Kambala sluit nou by Mosambiek aan vir die span se volgende internasionale verpligtinge, waar hy waardevolle ervaring na die Mamba-groep sal bring.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-12-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-72-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-387-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 106-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….