Oggendkoerant-verslag
ie hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Afrika-ontwikkelingsbank het goedkeuring gegee vir ‘n lening van 82-miljard-rand om Afrika se kunsmis- en energiekrisis te verlig. Die koerant skryf kunsmistekorte en probleme in die voorsieningsketting plaas Afrika se voedselsekerheid in gevaar.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die DA gaan toetree tot die ANC se saak in die Kieshof om sy kandidate geregistreer te kry. Die voorsitter van die DA se federale raad en adjunkminister van Finansies, Ashor Surapen, sê die DA gaan die integriteit van spertye verdedig.
En tweedens skryf die webblad ‘n passasier van American Airlines op pad van Dallas na Newark het begin homofobiese en rassistiese opmerkings skree. Die kajuitpersoneel het hom oorrompel en aan sy stoel vasgebind met kleefband.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf 55-duisend-123 mense het Suid-Afrika se nuwe tweejaarlikse MIV-voorkomingsinspuiting die afgelope drie maande begin gebruik, wat ‘n vroeë aanduiding bied van ‘n sterk aanvraag. Lenakapavir is bekend gestel by 360 openbare gesondheidsfasiliteite in 24 distrikte in ses provinsies.
# Sowetan:
Berig twee vroeë leersentrums wat teen 20-miljoen-rand elk in Ekurhuleni opgerig is, staan verlate. Die Tsakane-sentrum is die enigste van die drie sentrums wat aanvanklik opgerig is wat bedryf word.
# En The Citizen:
Skryf oor die geregtelike ondersoek na die dood van Anele Tembe, die verloofde van die kletsrymer, Kiernan “AKA” Forbes. Sy het in 2021 na haar dood geval van ‘n balkon op die tiende verdieping van die Pepperclub Hotel in Kaapstad. Getuienis is nou aangehoor dat Forbes na bewering by haar was tydens die voorval en dat daar ‘n argument was.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met beweerde nuwe onthullings wat in die moordsaak teen Zurenah Smit aan die lig gekom het. Sy staan tereg vir die moord op haar man Stefan. Die staat het die onthullings egter bestempel as aanpassings wat Smit in haar getuienis maak.
Dan word berig die EFF gaan die Ampsklagkomitee se weiering om advokaat Thandazani Madonsela as getuienisleier te aanvaar in die hof toets.
En daar is ook nuus oor Isuzu-bakkies wat teruggeroep is oor remprobleme en laastens ‘n berig oor die onsteltenis van ouers nadat leerders glo daggakoekies geëet het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die inwoners van Humansdorp is baie bekommerd oor die vlak van diens deur die provinsiale ambulansdiens by die plaaslike hospitaal. Die koerant skryf daar is twee ambulanse beskikbaar, maar die wagtye is onaanvaarbaar.
En tweedens skryf die koerant die Biko-familie het suksesvol ‘n interdik bekom om die geregtelike ondersoek na die dood van die anti-apartheidsaktivis Steve Biko te staak. Die familie se regspan het ‘n dringende hofbevel versoek sodat hulle beter kan voorberei en om die oorspronklike geregtelike doodsondersoek en belangrike geskiedkundige dokumente te hersien.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens oor die rugstekery en faksiegeskille wat in KwaZulu-Natal aan die orde van die dag is in aanloop tot die verkiesing.
En tweedens skryf die koerant die polisie gaan amptelik ondersoek instel na die dood van die patrolliehond, Sky.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n standaard wat gestel word in die Wet op Finansiële Instellings en Markte wat ’n verbod op die uitkontraktering van die kernfunksies van mediese fondse en fondsadministrateurs in Namibië plaas, sal die bedryf vir die administrasie van mediese fondse in die land vernietig.
En tweedens skryf die koerant meer as vyf-duisend-700 pensioenarisse en ander begunstigdes van maatskaplike toelaes wag steeds om op die regering se betalingstelsel teruggeplaas te word nadat hul toelaes tydens ’n verifikasie-oefening opgeskort is.