Nuus 06:00
BULLETIN 10 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê stemkopery is onaanvaarbaar in die ANC
# Die Duitse bondskanselier beskuldig die verregse AfD van “etniese suiwering”
# En krieket: Jordan Hermann lei die Proteas na ‘n oorwinning in die eerste eendagwedstryd teen Namibië
# Die ANC-president, Cyril Ramaphosa, sê bewerings van stemkopery by partykonferensies is onaanvaarbaar. Verlede maand het senior ANC-lid en nasionale uitvoerende komiteelid Nkosazana Dlamini Zuma die party se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, en Ramaphosa beskuldig dat hulle afgevaardigdes gekoop het om te verseker dat hulle die 2022-verkiesingskonferensie wen. Ramaphosa het gister tydens ‘n stemwerwingsveldtog in Tembisa gesê terwyl hulle die ANC hernu, moet stemkopery uitgeroei word waar dit ook al voorkom:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging is diep bekommerd oor ‘n bestuurskrisis by die Motorbedryf-Fondsadministrateurs, nadat die uitvoerende hoof Lihle Khoza geskors is. Dit volg na bewerings oor direksiefooie, ‘n interne ondersoek en ‘n poging om ‘n inspeksie deur die Finansiële Sektor Gedragsowerheid te verhoed. Phakamile Hlubi-Majola van die vakbond sê lede is ongelukkig dat die Motorbedryf Aftreefonds stilgebly het en skynbaar niks gedoen het nie:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, sê ParliMeter, ‘n platform wat ontwerp is om openbare toesig oor die Parlement te versterk, sal deur die Parlementêre Moniteringsgroep, oorgeneem word. Die publiek kan ParliMeter gebruik om parlementslede se bywoning, wetsontwerpe, komiteevergaderings en vrae aan ministers na te spoor. Rachel Fischer van OUTA sê die platform se volgende fase sal fokus op die verbetering van openbare toegang tot parlementêre inligting en om burgers, joernaliste en die burgerlike samelewing te help om die Parlement aanspreeklik te hou.
# Die Gautengse Departement van Gesondheid sê hy het vordering gemaak om mense gedurende die 2025/2026 boekjaar op MIV- en tuberkulosebehandeling te hou. Meer as een-miljoen MIV-pasiënte het met behandeling volgehou, terwyl meer as 27-duisend TB-pasiënte behandeling ontvang het. Die woordvoerder van die Departement, Steve Mabona, sê verbeterde opsporing van pasiënte wat afsprake en behandelings misloop, asook herinnerings aan behandeling, het gehelp om dié syfers te verbeter. Mabona het bygevoeg dat MIV-virusonderdrukking onder volwassenes en kinders ook verbeter het:
# Die Duitse bondskanselier Friedrich Merz het die verregse Alternatief vir Duitsland-party beskuldig dat sy teen-migrasiebeleid gelykstaande is aan “etniese suiwering”. Hy het in die Parlement gepraat na sy party, die Christen-Demokratiese Unie, se verpletterende nederlaag in die oostelike staat Sakse-Anhalt, waar AfD byna 44-persent van die stemme gewen het. Merz sê die AfD het Duitse belange benadeel deur Rusland te ondersteun. Hy sê die sogenaamde “remigrasie”-beleid sal miljoene mense raak, wat beteken dat geen versorgingsoord, hospitaal of restaurant kan funksioneer nie.
# Krieket: Die top-orde-kolwer, Jordan Hermann, het beïndruk in sy eerste wedstryd, toe Suid-Afrika ‘n oorwinning van 99 lopies oor Namibië volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode behaal het in die eerste eendagwedstryd in Windhoek. Hermann het 150 lopies van 126 balle aangeteken, wat die rekord vir die hoogste telling tydens ‘n eerste eendagwedstryd ewenaar, en ‘n tweede-paaltjie-vennootskap van 190 met Tony de Zorzi gedeel wat die Proteas op 348 vir ses gelaat het. Namibië is beperk tot 162 vir agt. Die tweede van drie eendagwedstryde word Vrydag in Windhoek gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-18-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-399-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 103-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….