Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Ses spelers van die heersende wêreldkampioen, Spanje, is ingesluit in vanjaar se lys benoemings vir die gesogte Ballon d’Or. Onder hulle is Ferran Torres, wie se doel in die Wêreldbeker-eindstryd teen Argentinië die oorwinning vir Spanje verseker het. Argentinië se kaptein in die toernooi, Lionel Messi, verskyn die 17de keer, maar Portugal se kaptein, Cristiano Ronaldo, is weggelaat. Torres het onlangs by Paris St-Germain aangesluit, wat altesaam tien spelers op die lys het, insluitend Ousmane Dembele. Die toekenningseremonie vind die 26ste van volgende maand plaas.
# Tennis: Die Amerikaner Ben Shelton het die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, in ‘n vyfstel-riller uitgeskakel om die Amerikaanse Ope se halfeindronde die eerste keer sedert 2023 te haal. Die agtste-gekeurde het die Spanjaard na vier-uur-en-28-minute geklop in die kwarteindstryd, wat half-vier die oggend in New York geëindig het – die laatste ooit vir ‘n wedstryd op die hardebaan-toernooi. Shelton speel nou om ‘n plek in die eindstryd teen sy landgenoot Frances Tiafoe, wat twee stelle agter was voor hy nog ‘n Amerikaner, Alex Michelsen, geklop het.
# Krieket: Australië wil privaat belegging in sy winsgewende Big Bash T20-liga vanaf die 2027/28-seisoen bekendstel, beginnende met die verkoop van die Melbourne Renegades. Krieket Australië sê afhangende van die uitkoms, sal hulle oorweeg om ander klubs op die mark te plaas onder ‘n selfbeskikkingsmodel. Renegades, wat die kompetisie in die 2018/19-seisoen gewen het, behoort tans aan die beheerliggaam van die regering van Victoria. Reuters berig Krieket Australië het gehoop om tot 6,9-miljard-rand uit sy aanvanklike privatiseringsplan in te samel nadat hulle vroeër ‘n groot netto tekort aangeteken het.
# Gholf: LIV Gholf het aansoek gedoen vir bankrotskapbeskerming in Amerika in ‘n poging om te herstruktureer nadat Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds sy finansiële steun onttrek het. Die fonds beëindig sy steun na die huidige seisoen nadat hy oor vyf jaar byna 80-miljard-rand bestee het. Die wegbreekliga skuld spelers minstens 720-miljoen-rand. LIV Gholf se uitvoerende hoof, Scott O’Neil, sê hierdie proses sal die liga tyd gee om ‘n mylpaal-transaksie te vind en die volgende hoofstuk te begin rondom ondersteuners en ‘n vernuwende eienaarskapsmodel wat spelers eerste plaas.
# En laastens, motorsport: Die Nieu-Seelandse bestuurder Liam Lawson sal Isack Hadjar se Red Bull bestuur in hierdie naweek se Spaanse Grand Prix in Madrid. Die Fransman het nog nie herstel van ‘n polsbesering wat hom uit die vorige twee Formule Een-wedrenne gehou het nie. Lawson se plek by Racing Bulls sal deur die Japannese bestuurder Yuki Tsunoda gevul word. Die span sê Lawson sal voortgaan om saam met die Nederlandse renjaer Max Verstappen te ry nadat hy in die Nederlandse en die Italiaanse Grand Prix gejaag het. Hadjar is tans agtste in die bestuurderskampioenskap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….