Nuus 06:00
BULLETIN 7 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die SAPD moet betroubaar, bekwaam, gedissiplineerd en eties wees
# Die AmaZulu-koning kritiseer die regering omdat hy uitgesluit word van groot geleenthede
# En rugby: Cheslin Kolbe en Ardie Savea sal nie in die laaste toets in die VSA uitdraf nie
# President Cyril Ramaphosa sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens tree tans onder ‘n ongekende openbare soeklig op, gegewe die onthullings wat uit die Madlanga-kommissie na vore gekom het. Hy het gister die geleentheidsrede gelewer by die SAPD-herdenkingsdag by die Uniegebou in Pretoria. Twaalf beamptes is tussen April verlede jaar en Maart vanjaar in die uitvoering van hul pligte dood. Ramaphosa sê die onthullings van die Madlanga-kommissie het wettige vrae oor polisiëring, leierskap, aanspreeklikheid en institusionele integriteit laat ontstaan:
# Die Activists and Citizens Forum sê die kandidaatregistrasiegeskil tussen die ANC en die Verkiesingskommissie sal die kommissie se geloofwaardigheid toets. Die ANC hou vol dat hulle hul kandidaatlyste betyds ingedien het, maar tegniese probleme ondervind het. Die kommissie ontken enige stelselprobleme, maar die ANC eis ‘n ondersoek en het gedreig om die Verkiesingshof te nader. Woordvoerder Dennis Bloem sê die kommissie se geloofwaardigheid moet beskerm word:
# Die AmaZulu-koning Misuzulu kaZwelithini is omgekrap omdat hy uitgesluit word van groot geleenthede wat in KwaZulu-Natal gehou word, insluitend die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskapsberaad in Durban. By die uMkhosi Womhlanga, ook bekend as die Rietdans, by die eMachobeni koninklike paleis in Ngwavuma, het die koning gesê dit is oneerbiedig om hoëprofiel-geleenthede in sy provinsie aan te bied sonder om hom in te lig of uit te nooi. Koning Misuzulu sê sy uitsluiting kan die regering se aansien skaad, want internasionale besoekers verwag om die AmaZulu-monarg te ontmoet wanneer hulle Suid-Afrika besoek.
# Die Gautengse Departement van Onderwys het 805-duisend-688 aanlyn aansoeke vir graad 1 en 8 vir die 2027 akademiese jaar ontvang. ‘n Totaal van 357-duisend-468 ouers en voogde het op die aanlyn toelatingstelsel geregistreer. Op graad 1-vlak het Laerskool Akasia die meeste aansoeke ontvang met een-duisend-355, terwyl Hoërskool Langenhoven in Tshwane die meeste aansoeke vir graad 8-vlak aangeteken het, met drie-duisend-462. Die LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê leerders moet logies en billik oor die openbare skoolstelsel versprei word:
# Suid-Afrika se toerismebedryf ervaar die uitwerking van die Iran-oorlog, aangesien ontwrigtings in Midde-Oosterse lugroetes internasionale vlugte verminder. Besoekersgetalle uit China het jaar-op-jaar met 20-persent afgeneem, met ongeveer 40-persent van geskeduleerde Chinese sitplekke na Suid-Afrika wat verlore gegaan het. Bedryfsleiers sê reisigers wend hulle tot alternatiewe roetes, terwyl hoër brandstofkoste en vliegtuigkaartjies steeds kommer wek. Die Suid-Afrikaanse hoof van Toerismestrategie, Siyabonga Mthethwa, vra sterker regstreekse lugverbindings met China om konflikgebiede te vermy en langtermynvermoë te verseker.
# Rugby: Die Springbokke en die All Blacks sal Saterdag sonder die sleutelspelers Cheslin Kolbe en Ardie Savea opdraf in die laaste toets in Baltimore, VSA. Kolbe het ‘n gebreekte kakebeen opgedoen in Suid-Afrika se 29-24 oorwinning in die derde toets in Johannesburg, terwyl kaptein Savea sy regterskouer ontwrig het. Die Springbok-stutte Carlu Sadie, Boan Venter en Ntuthuko Mchunu, sowel as die veelsydige voorspelers Cobus Wiese en Ben-Jason Dixon, sal ook nie die reis na die VSA maak nie. Die All Blacks sal boonop sonder die beseerde Quinn Tupaea en Luke Jacobson moet klaarkom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-93-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 21-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-979-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-429-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 98-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….