Nuus 08:00
BULLETIN 5 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Mededingingskommissie waarsku teen voortgesette druk op huishoudelike begrotings
# Erge weer teister die Wes-, Oos- en Suid-Kaap
# En, minstens 37 mense is dood weens giftige dampe tydens ‘n beweerde petroldiefstal in Nigerië
# Die Mededingingskommissie sê Suid-Afrikaanse huishoudings is steeds onder aansienlike lewenskostedruk, met noodsaaklike uitgawes soos elektrisiteit, water, vervoer en gesondheidsorg wat vinniger as algehele inflasie styg. Woordvoerder Siyabulela Makunga sê die kommissie se jongste lewenskosteverslag toon dat elektrisiteitspryse met agt-persent en watertariewe met tien-persent gestyg het tussen Julie verlede jaar en Julie vanjaar, terwyl petrolpryse in die eerste sewe maande van die jaar met 26-persent gestyg het:
Die Motorbedryf-personeelvereniging sê intussen stygende brandstofpryse druk Suid-Afrikaanse werkers onder die oorlewingslyn. Die vakbond sê petrolpryse het in die afgelope vyf jaar met meer as 70-persent gestyg, terwyl dieselpryse met 141-persent gestyg het. Phakamile Hlubi-Majola van MISA sê stygende brandstof-, elektrisiteits- en voedselkoste plaas toenemende druk op huishoudings, met baie werkers wat gedwing word om te kies tussen vervoer, elektrisiteit en voedsel:
# Erge weer veroorsaak wydverspreide skade in die Wes-, Oos- en Suid-Kaap, met kraglyne wat omgewaai het en beskadigde waterpype in verskeie gebiede. Sterk wind en swaar reën het noodsaaklike dienste ontwrig, met sommige gemeenskappe, onder meer die dorpie Prins Albert, wat sonder elektrisiteit en water is. Noodspanne werk tans aan die beskadigde infrastruktuur. Inwoners word versoek om omgewaaide kraglyne en oorstroomde gebiede te vermy en amptelike veiligheidswaarskuwings na te kom.
# Minstens 37 mense is dood weens giftige dampe terwyl hulle na bewering petrol uit ‘n pyplyn in Nigerië se Rivers-staat gesteel het. ‘n Omgewingsgroep het aan die BBC gesê baie word steeds vermis nadat meer as 100 mense in bootjies op die Okari-pier in Okrika toegesak het om die brandstof in die donker te steel. ‘n Polisieondersoek na die voorval is aan die gang. Van die mense het in die Bonny-rivier geval terwyl ander wat na hospitale afgevoer is. Diefstal uit pyplyne is al dekades lank ‘n probleem in Nigerië se oliegebiede.
# Sokker: Die Royal Bafokeng Sportstadion naby Rustenburg in Noordwes is waarskynlik die plek waar Bafana Bafana se eerste kwalifiseerder vir volgende jaar se Afrikabekertoernooi op die 26ste van hierdie maand aangebied sal word. Dit sal die eerste wedstryd wees met afrigter Pitso Mosimane in beheer. Mosimane het pas teruggekeer vir ‘n tweede termyn by die nasionale span. Bafana Bafana sal teen Guinee te staan kom, terwyl mede-gashere Kenia en Eritrea ook in Groep D is. Kenia, Uganda en Tanzanië sal die toernooi volgende jaar van 19 Junie tot 17 Julie aanbied.
# En ten slotte, JustMoney dring aan Suid-Afrikaanse verbruikers moet slimmer gebruik maak van lojaliteitsprogramme om hul begrotings te rek te midde van die stygende lewenskoste. Verbruikers word aangeraai om te fokus op programme wat gekoppel is aan goedere en dienste wat hulle reeds gebruik, om die bepalings te verstaan, en te kyk wanneer belonings verval en voordeel te trek uit vennootskappe. Pieter Wasserfall van JustMoney waarsku ook kopers om nie te veel te bestee om punte te verdien nie en om hul persoonlike inligting teen swendelary te beskerm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….