Nuus 09:00
BULLETIN 5 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# MK Party bevraagteken Gana se rol in Artikel 89-komitee
# Die Suid-Afrikaanse Bloeddiens moedig Suid-Afrikaners aan om bloed te skenk terwyl voorraad afneem
# En rugby: Siya Kolisi sê Bokke wil vandag die toetsreeks teen die All Blacks wen
# Die parlementêre leier van die MK-party, John Hlophe, sê die party wil hê die voorsitter van die Artikel 89-ampsklagkomitee, Makashule Gana, moet homself onttrek omdat sy party, Rise Mzansi, deel is van die Regering van Nasionale Eenheid. Hlophe het in ‘n onderhoud met die SABC gesê daar is kommer oor Gana se onafhanklikheid in die Phala Phala-ampsklagproses. Hlophe vra Gana se verwydering of ‘n nuwe verkiesing:
# Die busmaatskappy, Putco sê sy bedryfsuitgawes het van 25- tot 35-persent gestyg na Woensdag se brandstofprysverhoging. Die maatskappy waarsku pendelaars kan in die komende maande nog ‘n tariefverhoging ervaar, veral as gevolg van hoër dieselkoste. Putco het tariewe in Junie met tien-persent verhoog. Die woordvoerder, Lindokuhle Xulu sê brandstofbesteding het van ongeveer 42-miljoen-rand tot meer as 51-miljoen-rand gestyg. Hy sê voortgesette brandstofprysstygings kan die huidige tariewe onvolhoubaar maak en verdere druk op pendelaars plaas.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners wa kwalifiseer om bloed te skenk met nasionale voorrade wat onder druk verkeer. Die Bloeddiens sê hulle moet drie-duisend-500 eenhede per dag insamel om ‘n vyf-dae-voorraad te handhaaf, maar huidige skenkings skiet tekort. Die diens vra gereelde, eerstekeer- en vervalde skenkers, veral dié in die O- en B-bloedgroepe, om na vore te kom, aangesien elke skenking kan help om tot drie lewens te red.
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het die Palestine Solidarity Campaign en ander betogers verbied om bewerings te maak wat Cape Union Mart en sy uitvoerende voorsitter, Philip Krawitz, met volksmoord in Gaza verbind. Dit volg na ‘n regsgeding oor betogings en boikotveldtogte buite winkels. Die kleinhandelaar en Krawitz het aangevoer beskuldigings dat hulle volksmoord befonds en betrokke was by die doodmaak van kinders was lasterlik. Die betogers het volgehou hul stellings was politieke uitsprake wat deur die Grondwet beskerm word. Die hof se uitspraak balanseer daardie reg met beskerming teen lasterlike stellings.
# Die plastiekherwinningsorganisasie Polyco het sy Packa-Ching-herwinningsnetwerk in KwaZulu-Natal uitgebrei met ‘n nuwe mobiele herwinningseenheid wat in KwaMashu bekendgestel is. Die eenheid, wat deur die Itheku herwinningsgroep bedryf word, sal gemeenskappe groter toegang tot betaalde herwinningsgeleenthede bied terwyl dit plaaslike afvalherwinners en werkskepping ondersteun. Polyco se Lisl Doherty sê die Packa-Ching-netwerk het tot 63 eenhede landwyd gegroei en het meer as 57-miljoen-rand aan afvalherwinners betaal:
# En rugby: Bok-kaptein Siya Kolisi sê die span beskou vandag se derde toets teen die All Blacks as die beslissende wedstryd van die reeks, wetende dat as hulle verloor, is nie net nie die reeks daarmee heen nie, maar hulle sou dan ook twee uit drie keer tuis verloor het. Kolisi sê hulle wil nie reeks gelykop eindig nie; hulle gaan Soweto toe om die wedstryd te wen. Die FNB-stadion sal na verwagting volgepak wees met die afskop vanmiddag om tien oor vyf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….