Nuus 06:00
BULLETIN 4 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee Suid-Afrikaanse meisies wat in 2024 in Malawi verkoop is, is tuis
# Saai waarsku boere om voor te berei vir ‘n droogte
# En rugby: Babalwa Latsha lei ‘n ervare Springbok-vrouespan teen Nieu-Seeland
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, sê haar departement sal voortgaan om nou saam met Interpol Suid-Afrika en ander relevante wetstoepassingsagentskappe te werk om gevalle van kinderhandel aan te spreek. Dit volg nadat twee Suid-Afrikaanse meisies van onderskeidelik 9 en 15 jaar oud, wat in 2024 in Malawi verkoop is, veilig gerepatrieer is. Minister Pule sê die beweerde transaksie is deur ‘n paartjie uitgevoer, bestaande uit ‘n Malawiese burger van die Oos-Kaap en ‘n Suid-Afrikaanse vrou:
# Die African Transformation Movement sê president Cyril Ramaphosa het nie sy belofte nagekom om tien-duisend bykomende arbeidsinspekteurs aan te stel nie. Zama Ntshona van die party sê meer as ses maande na die belofte is geen nuwe inspekteurs aangestel nie. Ntshona doen ‘n beroep op die regering om werwing te bespoedig en ook die aantal immigrasiebeamptes te verhoog om wetstoepassing te versterk en werkers te beskerm:
# Die Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief, Saai, het boere aangespoor om vroeg voor te berei vir ‘n moontlike droë plantseisoen in 2026/2027. Dit volg ná waarskuwings oor hoë temperature en droogte wat verband hou met El Niño-toestande. Die voorsitter van Saai, Theo de Jager, sê boere moet hul aanplantings, begrotings en watergebruik noukeurig beplan, en moet ook voorberei vir die verhoogde risiko van brande. De Jager sê boere benodig betroubare weerinligting en vroegtydige ondersteuning om die moontlike uitdagings wat voorlê te bestuur.
# Die Wes-Kaapse regering verwelkom ‘n uitspraak deur die Appèlhof wat kerndele van sy onderwyshervormings handhaaf. Die hof het appèlle deur Equal Education en die onderwysersvakbond SADTU van die hand gewys, wat die wettigheid van samewerkingskole, skenkerbefondsde skole, intervensiefasiliteite en die Wes-Kaapse Skole-evalueringsowerheid bevestig. Die LUR vir Onderwys, Jaco Londt, sê die uitspraak bied sekerheid vir skole, ouers, onderwysers en leerders:
# Rugby: Babalwa Latsha voer Saterdag die Springbok-vroue teen Nieu-Seeland se Swart Varings aan op die FNB-stadion in Johannesburg. Die eerste toets tussen die spanne op Suid-Afrikaanse bodem begin om half-twee. Ses van die voorspelers was ook in die beginspan teen Nieu-Seeland in verlede jaar se Wêreldbeker-kwarteindstryd, wat die Swart Varings met 46-17 gewen het. Die medehoofafrigter, Laurian Johannes-Haupt, sê die groep het sedertdien meer diepte opgebou en is gereed vir die uitdaging. Sy sê die Springbok-vroue sal by hul fisieke plan bly en daarop fokus.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-200-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-473-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 97-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse feminis, joernalis en politieke aktivis, Gloria Steinem, is op 92-jarige ouderdom oorlede. Sy het in die laat 1960’s en vroeë 1970’s die gesig van die tweede fase van vroueregte geword en was meer as 50 jaar gelede medestigter van die Women’s Action Alliance, ‘n groep wat toegewy is aan die stryd teen seksisme. In 2013 het die destydse president Barack Obama aan haar die Presidensiële Vryheidsmedalje toegeken, die hoogste burgerlike eerbewys in die VSA. In ‘n verklaring sê die Gloria’s Foundation Steinem se byna-eeu op aarde was goed. Sy het tot die bittere einde na gelykheid gestreef.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….