Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Februarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Gelykheidshof het die Finansiële Intelligensiesentrum beveel om verslae oor verdagte en ongewone transaksies van Steinhoff, EOH, KPMG en Tongaat Hulett aan ‘n groep swart sakelui te oorhandig. Die groep beweer banke diskrimineer wanneer hulle sakerekeninge sluit weens kommer oor moontlike risiko’s.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met met die ongelukkigheid van die Suid-Afrikaanse konsessie-rugbyunies oor die vermeende verkoop van ‘n belang in die Suid-Afrikaanse Rugbyunie aan die Amerikaanse Ackerley Sports Group.
En tweedens word berig Li-Anne Grobler van Pretoria is baie bekommerd nadat haar twee lieflinghonde saam met haar Toyota Fortuner gesteel is.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die ANC mag moontlik nie ‘n keuse hê as om oudpresident Jacob Zuma terug te lok na die party toe nie.
En tweedens berig die koerant nóg grondboontjiebotterprodukte is uit die mark onttrek.
# Sowetan:
Berig die Tshwane-munisipaliteit is in die moeilikheid nadat hy nagelaat het om 600-miljoen-rand van sy infrastruktuur-toelaes van Tesourie te bestee. Hy moet dit binne enkele dae terugbetaal.
# En The Citizen:
Skryf die adjunkvoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Sylvia Lucas van die ANC is skerp gekritiseer vir haar uitlating dat beurtkrag nie so ernstig is nie. Sy is uit verskeie oorde daaraan herinner dat talle mense hulle werk verloor en sakeondernemings hulle deure sluit as gevolg van beurtkrag.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Sit vandag sy beriggewing oor die Sorour-moordsaak in Ficksburg voort. Advokaat Willie Edeling wat namens die moordbeskuldigde, Rudi Gericke verskyn, het in die hof aangevoer die vermoorde Evan Sorour se pa, Reuter het glo eerste geweld gebruik.
En tweedens is daar nuus oor die meer as 200 ou motors van wyle Louis Coetzer wat opgeveil gaan word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Beeld oor die vermeende Amerikaanse belang in SA Rugby.
En berig advokaat Nick de Jager, doktor Derek Swemmer en Penny van der Bank gaan nou ook ondersoek instel na die omstrede items wat in die Universiteit Stellenbosch se Wilgenhof-koshuis gevind is.
# En Cape Times:
Skryf ‘n opwaartse aanpassing in verkoopsbelasting sal verbruikers baie hard slaan.
En waarsku lesers om bedag te wees op Valentynsdag-bedrieërs.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig bekende ANC-lede in die Nelson Mandelabaai-metroraad het na bewering by Zuma se MK-party aangesluit.
En skryf die inwoners van Kamesh en KwaNobuhle leef in vrees nadat vier mense in die gemeenskap die afgelope week doodgeskiet is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Lei soos Business Day met die Gelykheidshof se uitspraak teen die Finansiële Intelligensiesentrum en bestempel dit as ‘n deurbraak teen ekonomiese sabotasie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig nog ’n tender vir die verskaffing van farmaseutiese produkte aan die ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste word in die hof getoets.
En skryf president Nangolo Mbumba sê die Namibiese ekonomie het weer die groeivlak voor die Covid-19-pandemie verbygesteek.