Nuus 15:00
BULLETIN 3 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ATM voer aan Ramaphosa het ‘n onregmatige opdrag gegee na die diefstal op Phala Phala
# Die beweerde meesterbrein in ‘n bedrogsaak van 10-miljoen-rand word in Emfuleni vasgetrek
# En rugby: Kaptein Taylor word uit die All Black-groep gelaat vir die derde toets
# Die ATM se regsverteenwoordiger, Kessler Perumalsamy, voer aan president Cyril Ramaphosa het ‘n onregmatige opdrag gegee aan die voormalige hoof van die Presidensiële Beskermingseenheid, Wally Rhoode, tydens die ondersoek na die diefstal op sy plaas, Phala Phala. Hy het aan die Wes-Kaapse Hooggeregshof gesê die Parlement se onafhanklike paneel het bevind daar is genoeg bewyse van ‘n onregmatige opdrag, maar die hof bevraagteken of die saak afhang van inligting uit Namibië:
# Die vermeende meesterbrein van ‘n sindikaat wat betrek word by tien-miljoen-rand se bedrog in die Emfuleni-munisipaliteit in Gauteng is vanoggend in hegtenis geneem. Die provinsiale taakspan vir politieke moorde het die voormalige diensverskaffer, die 25-jarige Janitha van Reenen, aangekeer toe sy die Landdroshof in Vanderbijlpark verlaat het waar sy vir ‘n soortgelyke saak verskyn het. Die Hooggeregshof in Johannesburg het haar verlede week borgtog toegestaan nadat die laer hof haar borgtogaansoek drie keer van die hand gewys het. Die sindikaat word beskuldig van betrokkenheid by onwettige elektrisiteitsaansluitings.
# Build One South Africa vra Stad Kaapstad om sy voorgestelde muur van 120-miljoen-rand langs die N2 te skrap en die geld te gebruik vir die bekamping van geweldsmisdaad. BOSA sê 869 mense is tussen April en Junie in Kaapstad vermoor, gelykstaande aan ‘n moord elke twee-en-‘n-half-uur. Die party sê die geld kan eerder vir die Metropolisie, kringtelevisie-kameras, straatbeligting en gemeenskapspatrollies aangewend word. BOSA voer aan veiligheid vereis mensgesentreerde wetstoepassing, beter ondersoeke en sterker gemeenskaps-betrokkenheid.
# Rugby: Die All Blacks se afrigter, Dave Rennie, het drie onervare voorspelers gekies vir Saterdag se derde toets teen die Springbokke op die FNB-stadion in Johannesburg. Die losvoorspeler Peter Lakai, die slot Sam Darry en die haker Asafo Aumua is die eerste keer op toer in die opdrafspan. Aumua vervang kaptein Codie Taylor, wat uitgelaat is nadat hy in die eerste twee toetse gesukkel het teen die taai Bokke. Nieu-Seeland se agterlyn is onveranderd van die span wat die tweede toets in Kaapstad verloor het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-944-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-438-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-38-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Ipsos-markpeiling toon byna een uit elke sewe Suid-Afrikaners sê hulle moes al van die werk, skool of universiteit wegbly omdat vervoer te duur is. Die navorsing toon mense in die ouderdomsgroep van 25 tot 34 word die meeste geraak, met 23-persent wat aandui hulle het al om hierdie rede weggebly. Die Vrystaat toon die meeste gevalle van vervoerverwante afwesigheid op 20-persent, gevolg deur die Noord-Kaap en Gauteng. Natalie Otte van Ipsos sê die bevindings beklemtoon die bekostigbaarheid van vervoer is dikwels ‘n struikelblok vir toegang tot onderwys en werksgeleenthede:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….