Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 01 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika se handelsoorskot het in Julie tot 20,1-miljard-rand gestyg. Die koerant skryf die handelsoorskot met Afrika het skerp gestyg terwyl tekorte met Asië en die Amerikas steeds toeneem.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ‘n bejaarde egpaar wat na bewering verbind word met bedrog van etlike miljoene rand, se liggame is gisteroggend op ‘n piekniekbankie in Jacobsbaai aan die Weskus gevind. Geen verdere besonderhede is in die stadium bekend nie.
En tweedens skryf die webblad ‘n voormalige voorsitter van SKOOR, ervare politikus en huidige woordvoerder van die IVP, Mkhuleko Hlengwa, is benoem as die party se burgemeesterskandidaat in eThekwini.
GAUTENG:
# The Star:
Berig die Hooggeregshof in Pretoria het uitspraak voorbehou oor ‘n aansoek wat deur die voormalige speaker van die Parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, ingedien is om alle korrupsieklagte teen haar te laat vaar. Sy staan tereg op 12 aanklagte van korrupsie en een aanklag van geldwassery. Die saak sal op 7 September weer voorkom wanneer die regter uitspraak sal lewer oor die ontslagaansoek.
# Sowetan:
Berig daar is na bewering binne ‘n uur 370-duisend-rand in ‘n senior lid van die Valke in KwaZulu-Natal se bankrekening inbetaal. Luitenant-kolonel Deenadayalan Govender moes aan die Madlanga-kommissie verduidelik waar die geld vandaan kom. Govender word verbind met 172 moorde tydens buitegeregtelike optredes in die provinsie.
# En The Citizen:
Skryf oor ‘n voorval by ‘n Afrikaanse laerskool in Johannesburg waartydens ‘n leerder die onderwyser met urine gegooi het en nog ‘n leerder met ‘n gevaarlike voorwerp in sy besit betrap is. Die onderwysvakbond het nou ingegryp nadat die Departement van Onderwys volgens berigte die skool opdrag gegee het om die voorval self te hanteer, maar sielkundige hulp vir die leerders aangebied het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die veelbesproke oorvlug deur Airlink se twee pasasierstralers voor die kragmeting tussen die Bokke en All Blacks in Kaapstad. Hoewel Airlink en kenners sê alles was fyn beplan, gaan daar nou onafhanklik ondersoek ingestel word.
En tweedens skryf die koerant die voormalige finansiële administrateur van die Hoërskool Kathu, Jessica Kuhn, is terug in die hof nadat sy na bewering nege-miljoen-rand by die skool verduister het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Staan sy hele voorblad af aan die 75ste herdenking van Volkswagen se betrokkenheid in Suid-Afrika. President Cyril Ramaphosa was die gasheer by gisteraand se gala-dinee.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die dodelike virus wat in Suid-Afrika se sardientjies opgespoor is, is die sardientjieherpesvirus. Hierdie virus, wat voorheen massa-vrektes in sardientjies in Australië en Nieu-Seeland veroorsaak het, is nou in Suid-Afrikaanse waters gevind.
En tweedens berig die koerant oor ‘n Australiese vrou, Leah Stewart, wat in Sydney, Australië, deur ‘n haai aangeval is. Sy het haarself met haar vuiste verdedig. ‘n Deel van haar linkerarm is na die voorval afgesit.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Independent Patriots for Change het kommer uitgespreek oor Namibië se samewerking met Ethiopian Airlines oor die stigting van die land se voorgestelde nuwe nasionale lugredery, Namibia Air. Hulle is bekommerd dit word ten koste van Namibië se kundigheid en indiensneming gedoen.
En tweedens skryf die koerant ’n geslagsgeweld-fasiliteit in Keetmanshoop sukkel om sy deure oop te hou te midde van vertraagde staatsbetalings, personeeltekorte, ’n gebrek aan toegewyde bestuurders, asook onsekerheid oor die hernuwing van sy kontrak, wat in Junie verstryk het.