Nuus 06:00
BULLETIN 27 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Thoko Didiza oorleef die mosie van wantroue teen haar
# China versoek sy burgers om Eswatini te verlaat weens veiligheidsrisiko’s
# En rugby: Rassie hoop Kaapstad sal ook Saterdag tydens die haka stil wees
# Die EFF se mosie van wantroue in die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het gister misluk. Altesaam 282 parlementslede het teen die mosie gestem en 101 ten gunste. Die EFF-leier Julius Malema het die mosie in Junie ter tafel gelê omdat Didiza nie president Cyril Ramaphosa se aansoek in die Wes-Kaapse Hooggeregshof verlede maand wou teenstaan om die verrigtinge van die Ampsklagkomitee te staak nie. Slegs die EFF, MK-party, African Transformation Movement, ACDP, National Coloured Congress en die United Africans Transformation het die mislukte mosie ondersteun.
Die EFF-leier Julius Malema sê Didiza, het nie haar grondwetlike verantwoordelikhede met onafhanklikheid, onpartydigheid en integriteit nagekom nie. Malema het die Speaker daarvan beskuldig dat sy die ANC se belange bo haar grondwetlike verantwoordelikheid in die Parlement kies:
# Die beweerde misdaadbaas Vusimuzi “Cat” Matlala het aan die Madlanga-kommissie gesê die voormalige Valke-hoof van KwaZulu-Natal, Lesetja Senona, het hom 20-duisend-rand geleen nadat die polisie in Desember 2024 sy huis in Pretoria deursoek het. Volgens Matlala het die polisie daardie maand twee klopjagte uitgevoer en sy fone gekonfiskeer. Hy sê Senona het belowe om die tweede klopjag te ondersoek, maar het hom nooit van inligting voorsien nie:
# Die ANC-jeugliga in Ekurhuleni eis dringende aanstellings vir jongmense wat aansoek gedoen het vir skoonmaker-, sekuriteits- en grassnyposte in die munisipaliteit. Hulle beskuldig die stad se afdeling vir menslike hulpbronne dat hulle die werwingsproses vertraag het, al is die poste geadverteer, en begroot en goedgekeur. Die jeugliga se streekwoordvoerder, Poula Mmakola, vra ‘n skriftelike reaksie en ‘n tydsgebonde plan, met aanstellings wat teen 15 September gemaak moet word. Mmakola het gedreig om aansoekers wat geraak word te mobiliseer en menslikehulpbron-kantore te beset indien daar nie aan die eise voldoen word nie.
# China se ministerie van Buitelandse Sake het sy burgers versoek om Eswatini te verlaat of te verskuif na veiliger lande, insluitend naburige Suid-Afrika, weens veiligheidsrisiko’s. Die raad volg op die Suider-Afrikaanse koninkryk se onderdrukking van onwettige aanlyn dobbelbedrywighede, wat gelei het tot die inhegtenisneming van tientalle Chinese burgers. Die ministerie sê die veiligheidsituasie in die land is ingewikkeld, met aanlyn bedrog en onwettige dobbelary wat hoogty vier en ‘n uiters hoë openbare veiligheidsrisiko. Die Eswatini-regering sê enige voorstel dat die land ‘n veiligheidsrisiko inhou, is betreurenswaardig.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus hoop Kaapstad sal Saterdag Johannesburg se voorbeeld volg deur die All Blacks se haka voor die tweede toets te respekteer. Hy het die Hoëveldse toeskouers gevra om stil te wees tydens die haka voor die eerste toetswedstryd nadat uitroepe van “olé olé” die haka tydens vorige wedstryde in Suid-Afrika gehoor is. Erasmus sê die skare was verlede naweek grotendeels stil, terwyl die paar wat nie was nie, deur diegene rondom hulle stilgemaak is. Hy sê die Bokke beskou dit as ‘n eer om die haka te konfronteer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-94-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-600-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-607-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….