Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Augustus 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die DA het teen die EFF se mosie gestem om die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, te verwyder. Die party sê verwydering sal parlementêre hervormings wat aan die gang is, ondermyn.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die EFF-leier, Julius Malema, sê Didiza het die afglope 15 jaar uit haar pad gegaan om president Cyril Ramaphosa te beskerm. Sy mosie is met 282 teen 101 stemme verslaan.
En tweedens skryf die webblad, ‘n 45-jarige Suid-Afrikaner, Marcell Meyer, is in die VSA tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die besit en verspreiding van kinderpornografie.
GAUTENG:
# The Star:
Berig vier Suid-Afrikaners is onder honderde toeriste wat steeds vermis word nadat verwoestende kitsvloede deur die Nepal-Tibet-grensgebied gespoel het, meer as 90 slagoffers geëis en ‘n massiewe internasionale soek- en reddingsoperasie ontketen het. Meer as 300 reisigers word steeds vermis.
En tweedens berig die koerant ook oor die onsuksesvolle mosie teen Thoko Didiza.
# Sowetan:
Berig oor die ware slagoffers van die ineenstorting van BOSASA. Dit is die werknemers wat nou reeds jare wag op die uitbetaling van hul voordele.
# En The Citizen:
Skryf die ANC wil die beskikbaarheid van gratis elektrisiteit aansienlik uitbrei, maar die vraag bly staan: Wie gaan hiervoor betaal? Volgens die koerant gaan dit sowat 80-miljard-rand kos.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek na die ongerymdhede by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Die koerant skryf daar is miljarde rand betrokke.
En tweedens word ook berig oor die Nepal-kitsvloed waarin vier Suid-Afrikaners vermis word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig opposisielede in die raad het president Ramaphosa uitgedaag om sy lof vir die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe, te staaf.
En tweedens skryf die koerant oor die polisieondersoek na die moord op ‘n polisiekaptein in Knysna.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n 59-jarige man wat daarvan beskuldig word dat hy Pinky Shelembe en Ntombizane Mbanjwa van Richmond vermoor het, het gister in die Richmond-landdroshof verskyn. Die gemeenskap eis dat hy borgtog geweier word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig plaaslike kontrakteurs wil weet waarom ’n maatskappy met Chinese bande oorweeg word vir die oprigting van die veterinêre-kordonheining in die Suide wat as ’n eenvoudige konstruksieprojek beskou word.
Tweedens skryf die koerant ‘n besending lugvaartbrandstof het die gehaltetoets gedop en plaas nou druk op Namibië se lugvaartbrandstof-voorraad.
En laastens is daar nuus oor ’n 16-jarige seun wat op Heldedag vir sy dapperheid beloon is.