Nuus 14:00
BULLETIN 26 August 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola loof die strategiese, diplomatieke vennootskap tussen Suid-Afrika en Brasilië
# Die titelakte-agterstand oorskry ‘n miljoen en die Menseregtekommissie word gevra om in te gryp
# En krieket: Vaughan glo strenger straf is nodig ná nog ‘n nagklubvoorval met ‘n Engelse speler
# Suid-Afrika en Brasilië het hul verbintenis herbevestig om bilaterale betrekkinge te versterk tydens die agtste sitting van hul gesamentlike kommissie in Pretoria. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, en sy Brasiliaanse ampsgenoot, Mauro Vieira, het besprekings gelei oor handel, landbou, energie, verdediging, gesondheid, mynbou en tegnologie, en samewerking deur BRICS, die G20 en die Globale Suide. Lamola sê hulle moet nuwe gebiede vir samewerking identifiseer:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge gaan die Menseregtekommissie vra om Suid-Afrika se behuisings- en titelakte-agterstande te verklaar as menseregteskendings. Woordvoerder Makone Maja sê dit volg op onthullings dat die titelakte-agterstand een-miljoen oorskry het, met meer as 30-duisend uit die apartheidsera. Die getal het gegroei vanaf 423-duisend in 2014 tot 774-duisend teen 2024. Maja sê dit weerspieël die kommissie se bevindings van 2024:
# ‘n Polisiekaptein wat die moord op die voormalige burgemeester van Knysna, Aubrey Tsengwa, ondersoek, is vanoggend dood tydens ‘n skietgeveg. Die offisier van die Taktiese Reaksiespan is verlede week na die Wes-Kaapse dorp ontplooi na die moord op Tsengwa en nog twee ANC-politici, Mandla Matiwane en Mandla Tyololo. Polisiewoordvoerder Novela Potelwa sê die beampte is noodlottig getref tydens ‘n operasie in die Sewendelaan-informele nedersetting gemik op onwettige vuurwapens. ‘n Agt-en-dertigjarige verdagte is ook doodgeskiet.
# Sewentien verdagtes wat verbind word met ‘n kapingsindikaat is in Orange Farm in die suide van Johannesburg in hegtenis geneem. Polisiewoordvoerder, Tintswalo Sibeko, sê beamptes het reageer nadat inligting ontvang is oor ‘n vragmotor wat op die N1 geteiken is vir kaping. Lede van die sindikaat is op ‘n kleinhoewe in Rietfontein onderskep waar hulle op die polisie losgebrand het. Vier van die verdagtes is gewond en word onder polisiebewaking in die hospitaal behandel. Sibeko sê die polisie het beslag gelê op onder meer ‘n AK-47-geweer, vier pistole, vyf voertuie, seinblokkerings-toestelle en verkeersbeampte-uniforms.
# Krieket: Die voormalige Engelse kaptein, Michael Vaughan, glo besondere streng straf is nodig om te verseker dat al die land se spelers besef daar sal gevolge wees vir oproerige gedrag. Die snelbouler Brydon Carse is die derde nasionale speler wat die afgelope jaar by ‘n drankvoorval betrokke was. Die polisie het hom verlede naweek buite ‘n nagklub in Derby geboei en hy is daarna uit die span weggelaat vir die tweede toets teen Pakistan. Vaughan sê iemand moet ‘n straf kry wat al die spelers sal laat skrik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-599-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-619-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….