Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Judges Matter verwelkom die aanstelling van Dire Tladi by die Internasionale Geregshof
# HAITU veroordeel die Gesondheidsdepartement oor misleiding van die publiek rakende werklose dokters
# En, krieket: ‘n Johannesburgse skoolseun moker ‘n onoorwonne 357 lopies
# Judges Matter is baie ingenome met die aanstelling van Dire Tladi as die eerste permanente regter uit Suid-Afrika by die Internasionale Geregshof. Die Navorsings- en Voorspraakbeampte van Judges Matter, Mbekezeli Benjamin, is baie trots op Tladi se aanstelling en wys op die belangrikheid daarvan vir Suid-Afrika. Tladi is in November verlede jaar verkies deur die Algemene Vergadering en Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies en word vandag beëdig vir ‘n termyn van nege jaar:
# Die gesondheidswerkers-vakbond HAITU beskuldig die Departement van Gesondheid van misleiding oor werklose dokters. Die vakbond voer aan die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, se erkenning van befondsingstekorte weerspreek die regering se bewering van dokters wat werkloosheid verkies bo landelike werk. HAITU veroordeel die feit dat junior dokters as die sondebokke bestempel word en gee die regering se besparingsmaatreëls die skuld vir ‘n gesondheidsorgkrisis. Hulle eis openbare gesondheidsamptenare moet openbare gesondheidsorg gebruik om stelselkwessies te kan verstaan.
# Die Randburg-landdroshof in Johannesburg het ‘n voormalige speler van Orlando Pirates en Swallows, Thandani Ntshumayelo, op borgtog van een-duisend-rand vrygelaat. Die 33-jarige speler staar aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer in die gesig nadat hy na bewering sy vriendin aangerand het. Die Nasionale Vervolgingsgesag se streekswoordvoerder, Phindi Mjonondwane, sê die gewese middelveldspeler is Saterdag gearresteer en het gister in die hof verskyn:
# Die DA in die Wes-Kaap het ‘n interne oudit versoek om die oorsaak van die fout te identifiseer wat veroorsaak het dat inwoners van Knysna se rekeninge dubbeld gedebiteer is. Dit word gevra sodat diegene wat verantwoordelik is, aanspreeklik gehou kan word. Talle inwoners het twee betalings ingeboet vir hul maandelikse munisipale rekenings. Die DA-lid, Levael Davis, sê dit is onregverdig teenoor die inwoners, veral pensioentrekkers en gesinne wat dit nie kan bekostig nie, om ‘n dubbele debiet te moet betaal:
# Krieket: Die sporttoneel in Johannesburg gons oor die verstommende vertoning van ‘n onder-13-speler wat ‘n driedubbele honderdtal in ʼn skolewedstryd gemoker het. Josh Anderson van Trinity House Randpark Ridge het slegs 162 balle benodig om 357 lopies op te stapel, insluitende 23 sesse en 42 viere. Sy span het geëindig op 591 vir nege en St John’s-kollege daarna vir net 187 uitgehaal nadat Christian Sparks sewe paaltjies laat kantel het. Josh het die Onder-13-span van die Gauteng Lions verlede jaar aangevoer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-770-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-25-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….