Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Augustus 2026:
Maroela Media:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het tydens vraetyd in die Nasionale Vergadering daarop gesinspeel dat buitelandse magte die geweld teen migrante in Suid-Afrika aanblaas. Hy het egter nie verdere besonderhede verskaf nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die afsterwe van die countrymusiek-koningin, Dolly Parton. Sy was 80.
Dan skryf die webblad president Ramaphosa sê Suid-Afrika geniet steeds die steun van ander Afrika-lande ten spyte van die migrantekwessie.
En laastens is daar nuus oor die wedstryd tussen die Leeus en All Blacks op Ellispark gisteraand wat die besoekers naelskraaps met 41-35 gewen het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf paartjies wat nie hul gewoontehuwelike geregistreer het nie, het slegs ses dae oor om dit te doen voordat die spesiale registrasieperiode op 31 Augustus sluit. Die Departement van Binnelandse Sake het ‘n beroep gedoen dat gewoontehuwelike geregistreer moet word sodat die huwelikstatus formeel erken kan word.
# Sowetan:
Lei met: “CAT’S WEB UNRAVELS”. Die koerant berig oor die vermeende kartelbaas, Vusimuzi “Cat” Matlala, se netwerk met ander rolspelers in die onderwêreld wat voor die Madlanga-kommissie ontrafel word.
# En The Citizen:
Skryf volgens ‘n gespreksdokument beoog die regering om teen volgende jaar ‘n sogenaamde groothandel-elektrisiteitsmark te skep. Daar word voorgestel dat Eskom se oorheersing in die mark gemonitor word om vrye mededinging moontlik te maak.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n pa van twee het tevergeefs die polisie se 10-111-nommer geskakel toe hy en sy kinders sien hoe twee mense langs die N-7 verbrand word. Ran Neuner sê die operateur was onbehulpsaam en ongeskik.
En tweedens skryf die koerant pogings om die inmaakfabriek in Tulbagh te red is steeds nie suksesvol nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig eerstens oor ‘n 12-jarige meisie wat omgekom het toe die wind ‘n muur omgewaai het wat op haar geval het.
En tweedens skryf die koerant die ondersoek na die moord op die tweemalige wêreldbokskampioen Zolani ‘Last Born’ Tete het ‘n nuwe wending geneem. Die polisie is nou op die spoor van ‘n vyfde verdagte en ondersoek steeds die motief vir die moord.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die stakende lede van die munisipale vakbond, SAMWU, is terug by die werk.
En berig die burgemeester van uMgungundlovu, Mzi Zuma, het uitgevaar teen die moorde op Pinky Shelembe en Ntombizane Mbanjwa wie se liggame in Richmond gevind is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Heldedag word vandag in Namibië gevier en daar is geen uitgawe van die koerant nie.