Nuus 06:00
BULLETIN 26 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die koningin van country, Dolly Parton, is oorlede
# President Ramaphosa belowe strenger optrede teen gebrekkkige munisipale waterstelsels
# En rugby: Siya Kolisi is fiks en gereed om teen die All Blacks op te draf in die tweede toets
# Die legendariese countrymusiek-sangeres, liedjieskrywer en aktrise, Dolly Parton, is op 80-jarige ouderdom oorlede. In ‘n loopbaan wat oor ses dekades gestrek het, het sy meer as drieduisend liedjies geskryf en meer as 100-miljoen plate wêreldwyd verkoop. Sy sal onthou word vir haar liedjies wat pragtige stories vertel het, soos Coat of Many Colours, Jolene, 9 to 5, en I Will Always Love You. In ‘n videoboodskap sê Parton se neef, Bryan Seaver, Parton se nalatenskap is een van liefde, deernis en veerkragtigheid:
# President Cyril Ramaphosa sê die regering ontwikkel ‘n openbare waterdiensteplatform wat gemeenskappe in staat sal stel om munisipale watervoorsiening en -gehalte te monitor. In antwoord op vrae in die Parlement het Ramaphosa ook belowe om op te tree teen korrupsie en sogenaamde watertenkmafia’s wat met waterdienste inmeng. Hy het gesê elke mislukte waterbehandelingsaanleg moet ‘n befondsde herstelplan hê met duidelike verantwoordelikheid om probleme op te los:
# Die EFF-leier, Julius Malema, sê die regering se versuim om op te tree teen die beweerde aanstigters en plegers van geweld teen buitelandse burgers in Suid-Afrika skep die indruk dat die geweld deur die staat goedgekeur is. Hy het gepraat tydens president Cyril Ramaphosa se antwoordsessie in die Nasionale Vergadering gister. Die president het gesê die regering ondersoek beweerde pogings deur magte buite die land wat die geweld teen buitelanders beïnvloed en aangehits het. Malema sê hierdie geweld is nie gesigloos nie:
# Die Biko-familie is meer tyd gegun om voor te berei vir die heropende geregtelike doodsondersoek na die dood van die anti-apartheidsaktivis Steve Biko. Die familie het eers Maandag regsverteenwoordiging gekry en het die Hooggeregshof in Gqeberha, in die Oos-Kaap, om uitstel gevra om die groot hoeveelheid bewyse van die oorspronklike doodsondersoek en die Waarheids-en-Versoeningskommissie-verhore te bestudeer. Biko se weduwee, Nontsikelelo, sal na verwagting getuig wanneer die doodsondersoek hervat word.
# President Donald Trump sê die Amerikaanse Vloot het alle myne in die internasionale waters van die Straat van Hormoes verwyder of laat ontplof. Die belangrike waterweg, waardeur sowat 20-persent van die wêreld se olie en vloeibare gas uitgevoer word, is deur Iran geblokkeer sedert die oorlog in Februarie begin het. In ‘n plasing op Truth Social waarsku Trump dat enige skip of boot wat nuwe myne plaas onmiddellik en sistematies vernietig sal word. Hy sê die Amerikaanse vloot gebruik Space Force-tegnologie om die hele straat te monitor.
# Rugby: Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, het van ‘n dyspierbesering herstel en sal Saterdag teen die All Blacks in Kaapstad opdraf. Die 35-jarige, wat die besering drie weke gelede teen Argentinië opgedoen het, het verlede naweek die eerste toets in Johannesburg misgeloop. Kolisi sal ‘n los trio vorm met Pieter-Steph du Toit, wat aanvanklik as kaptein aangewys is in sy 100ste toetswedstryd, en Jasper Wiese. Dit beteken dat Paul de Villiers uit die span wegval.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-91-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-768-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-670-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….