Nuus 06:00
BULLETIN 25 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering en sakesektor moet ekonomiese beperkings saam aanpak
# Die eerste getuie sal vandag in die heropende Steve Biko-ondersoek getuig
# En rugby: Twee Bokke word vrygestel om die Leeus teen die All Blacks te versterk
# President Cyril Ramaphosa sê terwyl die staat beleid moet stel, reguleer en openbare dienste lewer, is die kundigheid en hulpbronne van die private sektor van kritieke belang om ‘n veerkragtige ekonomie te bou. Die derde fase van die vennootskap tussen die regering en sakeondernemings is verlede week bekendgestel om vinniger inklusiewe ekonomiese groei te dryf en werk te skep. In sy weeklikse nuusbrief sê Ramaphosa die vennootskap het onder meer gehelp om beurtkrag te beëindig en die bedryf van belangrike hawens te versterk. Hy sê sosiale vennootskappe is praktiese, leweringsgerigte meganismes wat meetbare resultate behaal.
# Die beweerde ‘Groot Vyf’-kartelbaas en sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala het geweier om die aard van sy verhouding met die geskorste nasionale adjunkpolisiekommissaris Shadrack Sibiya te bespreek. Matlala het voor die Madlanga-kommissie getuig en bevestig hy ken Sibiya en het voorheen sy kantoor besoek nadat hy ‘n vergadering oor ‘n huurkontrak van die Departement van Openbare Werke aangevra het. Hy het egter gesê hy kon nie hul transaksies bespreek nie weens voortgesette ondersoeke en aanklagte teen hom:
# Die eerste getuie in die voortgesette geregtelike ondersoek na die dood van die anti-apartheidsaktivis Steve Biko sal na verwagting vandag in die Hooggeregshof in Gqeberha getuig. Die verhoor is gister vertraag deur ‘n geskil oor die befondsing vir die regsverteenwoordiging van Biko se weduwee, Nontsikelelo. Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het nou ingestem om die regskoste te dek, wat die weg baan vir die voortsetting van die ondersoek. Die saak is heropen om die omstandighede rondom Biko se dood in polisie-aanhouding in 1977 te ondersoek.
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, verwelkom die opening van ‘n nuwe kantoor vir Binnelandse Sake, by die Burgersentrum in die middestad. Inwoners kan nou, slegs per afspraak, aansoek doen vir noodsaaklike dokumente soos ID’s en paspoorte by die fasiliteit, wat daarop gemik is om regeringsdienste meer toeganklik te maak en druk op besige takke van Binnelandse Sake te verlig. Hill-Lewis sê die kantoor is ‘n voorbeeld van doeltreffende samewerking tussen die nasionale en plaaslike regering:
# Die Britse eerste minister, Andy Burnham, sê sy land se steun vir Oekraïne het nie verander nie, ten spyte van Russiese vergeldingsdreigemente. Hy het gister sy eerste amptelike besoek as eerste minister aan Kiëf gebring, ten tyde van die land se 35ste onafhanklikheidsviering. Burnham sê Brittanje sal steun aan Oekraïne op drie sleutelgebiede bied. Hy sê dit is om die lugruim te help verdedig, meer sanksies teen Rusland in te stel, en te onderhandel, aangesien Kiëf nooit ‘n gebied sal prysgee wat Moskou nie op die slagveld kan verower nie:
# Rugby: Min mense verwag die Leeus sal die All Blacks se onoorwonne status op hul Suid-Afrikaanse toer in Johannesburg vanaand beëindig. Nieu-Seeland lyk onheilspellend na oorwinnings oor die Stormers, die Bulle, die Haaie en die Springbokke in hul eerste vier toerwedstryde. Die Leeus-afrigter Ivan van Rooyen het sy sterkste moontlike span aangewys, versterk deur die insluiting van Quan Horn en Boan Venter, wat van die nasionale groep vrygestel is vir die ontmoeting. Die wedstryd op Ellispark skop vanaand om sewe-uur af.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-887-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-660-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 92-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….