Nuus 09:00
BULLETIN 22 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige Wêreldbokskampioen Zolani Tete is doodgeskiet
# Die Grensbestuursowerheid toets sy Ebola-gereedheid by die besige Beitbrug-grenspos
# En tennis, Sinner en Rune onttrek aan Amerikaanse Ope weens beserings
# Polisie in die Oos-Kaap ondersoek die dood van die voormalige wêreldbokskampioen Zolani “Last Born” Tete in KuGumpo-stad. Hy was tussen 2014 en 2015 die IBF junior-bantam-wêreldkampioen en die WBO-bantamtitelhouer van 2017 tot 2019. Die 38-jarige is gisteraand buite sy huis aangeval en doodgeskiet terwyl hy gewag het vir ‘n hek om oop te gaan. Sy vroue-passasier is beseer en in die hospitaal opgeneem. Geen arrestasies is nog gemaak nie en die motief is onbekend. ‘n Woordvoerder vir Vervoer en Gemeenskapsveiligheid, Makhaya Komisa, het die publiek gevra om die polisie met inligting te help:
Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het die moord intussen veroordeel. Tete sou na verwagting ‘n boks-terugkeer gemaak het na ‘n vier jaar lange skorsing. Hy is 2022 positief getoets vir die verbode middel stanozolol. Mabuyane het Tete beskryf as een van die Oos-Kaap se beste sportseuns.
# Die Grensbestuursowerheid het ‘n tweede Ebola-simulasie-oefening by die Beitbrug-grenspos in Limpopo uitgevoer. Die tweedaagse oefening het Suid-Afrika se vermoë getoets om ‘n vermeende Ebola-geval op te spoor, te isoleer en daarop te reageer, terwyl die koördinering tussen gesondheids-, nood-, wetstoepassings- en grensowerhede versterk is. Mmemme Mogotsi van die owerheid sê die oefening is daarop gemik om die voorbereiding vir openbare gesondheidsnoodgevalle by besige toegangspunte te verbeter:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging doen ‘n beroep op werkgewers in die motorbedryf om arbeidswette na te kom en hul werkers by die Vergoedingsfonds te registreer. Dit volg na inspeksies by omtrent 50 Gautengse vulstasies wat bevind het werkgewers registreer nie hulle werkers nie. Die vakbond waarsku dat werknemers wat aan diens beseer word, sonder mediese en finansiële ondersteuning gelaat kan word. Phakamile Hlubi-Majola van MISA sê werkgewers het ‘n wetlike verantwoordelikheid om werkers te beskerm:
# Burgerlike samelewingsgroepe doen ‘n beroep op die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, om ‘n voorgestelde ooreenkoms rakende ‘n olie-ontginningsblok op see in die Oranje-kom te verwerp. Die South African Boycott, Divestment and Sanctions Coalition, Masifundise Onrtwikkelingstrust, Natural Justice en die Climate Justice Coalition sê die oordrag van ‘n 38-persent-belang en beheer aan die Israelse maatskappy Navitas Petroleum kan vissersgemeenskappe en die omgewing bedreig. Roshan Dadoo van die koalisie doen ‘n beroep op behoorlike openbare raadpleging en omgewingsbeoordeling voor enige besluit geneem word.
# En tennis: Die wêreld-nommer-een Jannik Sinner het gister bevestig dat hy nie aan die laaste Grand Slam van die seisoen – die Amerikaanse Ope – sal deelneem nie, weens ‘n regterkniebesering. Hy sê hy was die afgelope paar dae terug op die baan in Monte Carlo en het besef hy het meer tyd nodig om van sy besering te herstel. Intussen het die voormalige wêreld-nommer-vier, Holger Rune, wat sedert Oktober weens ‘n Achilles-hakbesering buite aksie is, ook sy onttrekking aan die Amerikaanse Ope bevestig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….