Nuus 08:00
BULLETIN 22 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Deenadayalan Govender onthul vuurwapens, dwelms, en kontant is in die Morningside-woonstel gevind
# ‘n Indrukwekkende groep voormalige sterre hanteer die uitsending van die eerste toets in die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks
# En, Gandhi se handgeskrewe notas oor sy lewe word vir 28-miljoen-rand op ‘n Indiese veiling verkoop
# Deenadayalan Govender van die Valke in KwaZulu-Natal het aan die Madlanga-kommissie onthul dat vuurwapens, dwelms, ammunisie en byna 400-duisend-rand in kontant herwin is in die Morningside-woonstel waar taxibaas Bevan Loftus en vier ander in ‘n klopjag op 1 April 2023 dood is. Govender sê 197 rondtes ammunisie, ‘n R5-geweer, twee AK47’s en vier pistole is teruggevind, met een vuurwapen wat ballisties verbind is met ‘n driedubbele moord. Hy het erken dat hy nie die teruggevonde items verwerk of waargeneem het nie:
# Die DA sê die regering moet dringend meer privaat ondernemings toelaat om deel te neem aan die bestuur van Suid-Afrika se hawens. Chris Hunsinger van die party sê Fase-3 van die regering-sakevennootskap moet werklike hervormings lewer om hawe-doeltreffendheid te verbeter en vertragings te verminder. Volgens Hunsinger kan privaat belegging meer mededinging, vaardighede en befondsing inbring terwyl strategiese hawe-infrastruktuur in staatsbesit bly. Hy wil vinniger vordering hê met privaat konsessies, veranderinge aan Transnet se hawestruktuur en meer ingrypende bevoegdhede vir die hawe se reguleerder.
# Standard Bank het die top tien finaliste in sy 2026 Kasi Nasionale Voorleggingsuitdaging vir Klein en Mediumgrootte Ondernemings aangekondig, met entrepreneurs van al nege provinsies wat meeding om ‘n prys van een-miljoen-rand. Die finaliste bedryf besighede in sektore soos landbou, gesondheidsorg, vervaardiging, voedselproduksie, media en volhoubare konstruksie. Naledzani Mosomane van die bank sê die finaliste sal hul ondernemings op 27 Augustus in Gqeberha, Oos-Kaap tydens die nasionale eindronde aan beoordelaars voorlê:
# Die Vereniging van Staatsamptenare verwelkom die nuwe Noordwes-LUR vir Onderwys, Desbo Mohono, en vra ‘n dringende hersiening van arbeidsverhoudinge. Die vakbond wil sterker betrokkenheid tussen die departement en georganiseerde arbeid hê, asook beter ondersteuning vir opvoeders en ander personeel. Zhulfa Graaff van die vereniging sê verbeterde dienslewering vereis voldoende personeel, veilige werksomstandighede, ondersteuning vir werknemerswelstand en vinniger oplossing van geskille in die werkplek.
# Rugby: ‘n Indrukwekkende groep voormalige Springbokke en All Blacks gaan Supersport se dekking van die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks hanteer. Die aanbieders, ontleders, kommentators en rugby-persoonlikhede sluit in Jean de Villiers, Schalk Burger, Steven Kitshoff, Richie McCaw, Dan Carter, Stephen Donald, Nick Mallett, Ricky Schroeder, Breyton Paulse, and Akona Ndungane. SuperSport sê die dekking spog met verbeterde uitsendings met meer as 25 kamera’s, insluitend 18 bemande kamera’s, Ultra Cam, super stadige beweging kamera’s, hommeltuigdekking en die Airlink Spidercam.
# En om mee af te sluit, handgeskrewe notas deur Mahatma Gandhi is vir ‘n rekordbedrag van byna 28-miljoen-rand by ‘n veiling in Indië aan ‘n onbekende persoon verkoop. Die versameling van 688 handgeskrewe nabetragtings is oor twee jaar deur Gandhi geskryf vir sy hegte vriend en vryheidsvegter, Anand Hingorani. Dit dek onderwerpe soos waarheid, nie-gewelddadigheid, diens en morele verantwoordelikheid, en is later gepubliseer onder die titel ‘n Gedagte vir die Dag. Die versameling is vir geslagte deur die Hingorani-familie bewaar. Die transaksie is ‘n wêreldrekord vir ‘n Indiese historiese dokument wat by ‘n veiling verkoop is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….