Nuus 06:00
BULLETIN 21 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC gaan strafregtelike klagtes indien teen Mark Burke van die DA en sy maatskappy
# ‘n Derde verdagte is in hegtenis geneem in verband met die Reigerpark-skietery
# En rugby: Rassie vra Bok-ondersteuners om die All Blacks se Haka te respekteer
# Die ANC sê hulle gaan vandag strafregtelike klagtes indien teen die DA se voorsitter van Federale Finansies, Mark Burke, en die maatskappy wat hy gestig het, Kastelo. Die beleggingsfirma word deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank ondersoek vir oortredings van valutabeheer. Daar word beweer dat Kastelo kliënte se toelaes gebruik het om fondse vir eie gewin oorsee te skuif. Die DA het Burke uit die Parlement se finansieverwante komitees verwyder. Die ANC-hoofsweep, Mdumiseni Ntuli, sê die bewerings moet deeglik ondersoek word en enigiemand wat die wet oortree het, moet die gevolge dra.
# Business for South Africa verskuif nou sy fokus na sleutelsektore, insluitend mynbou, landbou, toerisme, gasvryheidsektor en infrastruktuur. Dit volg na die bekendstelling van fase drie van die regering-nywerheidsvennootskap. Martin Kingston van die handels-organisasie sê die regering moet ekonomiese groei van meer as drie-persent behaal om ‘n betekenisvolle impak op jeugwerkloosheid te maak. Kingston sê die vennootskap sal ook help om beleggersvertroue te verbeter en die Stad Johannesburg te ondersteun:
Die uitvoerende hoof van Discovery, Adrian Gore, sê intussen Suid-Afrika moet ekonomiese groei van minstens drie-persent behaal om werk te skep en werkloosheid te verminder. Gore het tydens die bekendstelling van fase drie van die vennootskap tussen die regering en nywerhede in Johannesburg gesê vordering is gemaak met die beëindiging van beurtkrag, die verbetering van logistiek en die herstel van beleggersvertroue, maar groei bly te stadig. Hy sê die regering en nywerhede moet nou hul fokus van hervorming na groei verskuif:
# ‘n Derde verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moorde op twee lede van die Teenbende-eenheid en twee vroue in Reigerpark, Johannesburg, vroeër die maand. Die 27-jarige verdagte is in Ekurhuleni aangekeer na ‘n intelligensie-operasie. Twee ander verdagtes in die saak, die vermeende bendelid Regan Collis en 24-jarige Jamal Meyer, bly in aanhouding. Die Valke-woordvoerder in Gauteng, Katlego Mogale, sê die derde verdagte sal vandag in die Boksburg-landdroshof verskyn:
# President Volodymyr Zelensky sê Oekraïne se bondgenote wat nalaat om sy voorraad lugverdedigingsmissiele aan te vul, kos lewens. Dit volg nadat ‘n heftige Russiese missiel- en hommeltuigaanval Woensdagnag tot Donderdagoggend in en om Kiëf minstens 15 slagoffers geëis het en 34 beseer het. Oekraïne het ‘n tekort aan Patriot-onderskeppers, wat beteken hy sukkel om homself teen hoëspoed-ballistiese aanvalle te verdedig. Zelensky sê solank Oekraïne nie genoeg teen-ballistiese missiele het nie, sal Rusland nie ernstig aan vrede dink nie.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus het Suid-Afrika se ondersteuners gevra om die All Blacks se Haka in môre se toets in Johannesburg te respekteer. Hy wil hê die verwagte partydige skare moet stilbly terwyl die teenstanders hul tradisionele voorwedstrydritueel op Ellispark uitvoer. Dit volg na die gesing van “olé, olé” die Nieu-Seelandse uitdaging tydens die onlangse toetse in Suid-Afrika oordonder het. Erasmus sê groot respek is getoon voor die All Blacks se wedstryde teen die Stormers in Kaapstad, die Haaie in Durban en die Bulle op Loftus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-702-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-521-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 94-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….