Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 Augustus 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika se medisynevervaardigers het ‘n ooreenkoms met die Departement van Gesondheid bereik waarvolgens privaat medisyneprysreëls hersien sal word. Dit volg na die verlies van sowat een-duisend-500 werksgeleenthede in die medisynebedryf.
# Mail & Guardian:
Skryf oor oudpresident Jacob Zuma se plan om die ANC in die Oos-Kaap te laat ineenstort sodat die MK-party in die plaaslikeregeringsverkiesing in November beheer kan oorneem in die provinsie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens die ANC gaan vandag strafregtelike klagtes indien teen die DA se voorsitter van Federale Finansies, Mark Burke, en die maatskappy wat hy gestig het, Kastelo. Die beleggingsfirma word deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank ondersoek vir oortredings van valutabeheer.
En tweedens skryf die webblad die aangewese getuienisleier van die Ampsklagkomitee, advokaat Thandazani Madonsela, het president Cyril Ramaphosa gekritiseer omdat hy beswaar gemaak het teen Madonsela se aanstelling. Hy sê die president se vrese berus nie op feite nie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf tydens die verhoor van twee bekende sekuriteitsbase, Darren en Ferrel Govender, vir die moord op die Durbanse sakeman, Shailen Singh, in 2024, het dit aan die lig gekom dat ‘n ooggetuie, wie se identiteit deur ‘n hofbevel beskerm word, ‘n gewapende kaalkop-man op die moordtoneel gesien het.
# Sowetan:
Berig die Cosmo City Secondary School in Johannesburg het ‘n graad 9-leerder toegang geweier nadat hy vier maande afwesig was om ‘n inisiasieskool by te woon. Die koerant skryf die skool sê dit was te lank, maar ‘n drukgroep is van mening die seun moenie gestraf word omdat hy sy kultuur beoefen nie.
# En The Citizen:
Het vandag ‘n bylae van ses blaaie oor die Springbokke se kragmeting teen die All Blacks.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die kritiek teen Ramaphosa se besluit om beswaar aan te teken teen die Ampsklagkomitee se getuienisleier.
En tweedens skryf die koerant die 16-jarige van Malmesbury wat van betrokkenhed by ‘n uitbuitingsnetwerk beskuldig word, is vir sielkundige waarneming verwys.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig meer as honderd mense het buite die Gqeberha-landdroshof saamgetrek om die verkragtinglagoffer, Aviwe Nkume, te ondersteun voordat sy haar vermeende aanvaller in die hof sou moes konfronteer.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die bestuurder van ‘n motor is deur nooddienspersoneel uit die brandende wrak gered nadat hy in ‘n ongeluk was.
En tweedens word berig oor Reece Pillay wat deur die publiek se hulp weer met sy hond, Apollo, herenig is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Waardasiehof het beslis dat die konsep-waardasierol vir Hentiesbaai terugverwys word na die waardeerder vir die insluiting van alle kommentaar en besware wat tydens die hofverrigtinge geopper is. Nadat die hersiene rol vir die vereiste tydperk van 21 sae ter insae beskikbaar gestel is, sal die saak in die Waardasiehof hervat word.
En tweedens skryf die koerant opknappingswerk aan die brug wat Osona Village met die Osona militêre basis verbind wat net ses maande sou duur, word steeds vertraag.