Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Augustus 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die DA-parlementslid, Mark Burke, het homself onttrek aan die Parlement se Finansieskomitee terwyl die Suid-Afrikaanse Reserwebank ‘n maatskappy ondersoek waarvan hy ‘n begunstigde is. Burke staar ernstige ondersoeke in die gesig oor bewerings dat die fintech-maatskappy Kastelo sowat vier-miljard-rand oorsee geskuif en valutabeheerregulasies oortree het.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die ANC-jeugliga is woedend oor die swak bestuur van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Die liga eis verantwoording en nie dat die probleem slegs administratief hanteer word nie.
En tweedens skryf die webblad ‘n verpleegster by die King Dinuzulu-hospitaal in Durban is geskors na ‘n video op sosoiale media getoon het hoe sy ‘n pasiënt aanrand.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die geskorste parlementslid, Fadiel Adams, het homself gedistansieer van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie se ondersoek na senior misdaadintelligensie-amptenare. Hy het aan die Madlanga-kommissie gesê hy was bloot ‘n klaer wat inligting te goeder trou verskaf het en op IDAC-amptenare staatgemaak het om te besluit of dit verdere ondersoek regverdig.
# En Sowetan:
Lei met: “JOKES, JABS & JEERS”. Die koerant berig ook oor Adams se getuienis voor die Madlanga-kommissie en skryf hy het die kommissarisse meestal geïrriteer.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig president Cyril Ramaphosa het amptelik beswaar gemaak teen die Ampsklagkomitee se voorgenome getuienisleier, advokaat Thandazani Madonsela. Die president het in ‘n skrywe aan die komitee aangevoer Madonsela mag dalk botsende belange hê want hy het voorheen die ANC van raad bedien oor die Phala Phala-kwessie.
En tweedens skryf die koerant ‘n 17-jarige leerder van die Strand Sekondêre Skool, slegs bekend as Tapiwa, het voor sy klasmaats inmekaargesak en is dood. Die polisie het ‘n geregtelike ondersoekdossier geopen.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die taxiverenigings en gemeenskap is gekant teen borgtog vir ‘n vragmotorbestuurder ná ‘n noodlottige ongeluk.
En skryf die Msunduzi-metro beraam planne om die volume van swaarvoertuigverkeer wat die stad se paaie beskadig te herlei.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Comrades Marathonvereniging het sy eeufeeswedloop vir 2027 amptelik bekend gestel.
En tweedens berig die koerant ook oor Fadiel Adams voor die Madlanga-kommissie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig dit het by die jaarlikse Olie- en Gaskonferensie aan die lig gekom Namibië wil nie net ‘n olievervaardigende nasie word nie. Die land wil dit intelligent gebruik om ekonomiese transformasie te versnel.
En tweedens skryf die koerant dringende nasionale ingryping word vereis met ‘n groeiende krisis wat Namibië se seuns en jong mans in die gesig staar. Hulle gaan gebuk onder swak opvoedkundige uitkomste, werkloosheid en ernstige geestesgesondheidsuitdagings. Daar was teen Maart reeds 122 selfdoodgevalle.