Nuus 06:00
BULLETIN 20 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ampsklagkomitee win ‘n regsmening in oor Ramaphosa se beswaar teen die getuienisleier
# Raymond Parsons sê die laer inflasie in Julie is goeie nuus
# En die Israelse weermag ondersoek die moord op ‘n vyfjarige meisie in Gaza
# Die parlementêre Ampsklagkomitee het besluit om ‘n brief deur president Cyril Ramaphosa, waarin hy beswaar maak teen die aanbevole getuienisleier, vir ‘n regsmening te verwys. Die president sê hy het Madonsela as sy aanstelling by die Regterlike Dienskommissie verwyder na onderhoude vir ‘n hoofregter in 2022. Hy sê Madonsela is in konflik, aangesien hy onlangs regsadvies aan die ANC verskaf het oor die ampsklagproses. Die komiteevoorsitter, Makashule Gana, sê Ramaphosa se brief beïnvloed die aanstellingsproses:
Die EFF-leier Julius Malema het intussen Ramaphosa se beswaar teen die getuienisleier verwerp en gesê hy probeer doelbewus om die komitee se demokratiese prosesse te vertraag. Die komitee het met 19 teen 5 gestem om die aanstelling van die getuienisleier uit te stel en om ‘n regsmening oor Ramaphosa se brief aan te vra. Malema sê die president gaan nie sy eie regter vir sy ampsklagproses kies nie:
# Die DA-parlementslid, Mark Burke, het homself onttrek aan die Parlement se Finansieskomitee terwyl die Suid-Afrikaanse Reserwebank ‘n maatskappy ondersoek waarvan hy ‘n begunstigde is. Burke staar ernstige ondersoeke in die gesig oor bewerings dat die fintech-maatskappy Kastelo sowat vier-miljard-rand oorsee geskuif en valutabeheerregulasies oortree het. George Michalakis van die DA sê die stap is om enige moontlike botsende belange te vermy:
# ‘n Ekonoom van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, Raymond Parsons, sê verlede maand se laer as verwagte inflasiekoers, is goeie nuus vir verbruikers en ondernemings. Parsons sê egter onderliggende prysdruk bly ‘n bron van kommer, met kerninflasie wat effens styg tot 4,2-persent. Hy sê die Suid-Afrikaanse Reserwebank sal rentekoerse waarskynlik tydens sy vergadering volgende maand onveranderd laat, indien inflasie aanhou daal. Volgens Parsons sal die Monetêre Beleidskomitee waarskynlik etlike maande van laer inflasie nodig hê voor rentekoersverlagings oorweeg sal word.
# Die Israelse Weermag sê hulle sal die moord op die vyfjarige Hind Rajab en haar ses familielede in Gaza in 2024 strafregtelik ondersoek. Die Weermag het vir die eerste keer erken dat hulle op die voertuig waarin Rajab en haar gesin vervoer is, losgebrand het, nadat hulle voorheen betrokkenheid ontken het. Rajab het die aanval aanvanklik oorleef, en die ambulans wat gestuur is om haar te red, is ook aangeval. Haar liggaam is dae later gevind. Die Weermag sal ook die moord op 15 Palestyne, insluitend medici en ‘n Verenigde Nasies-werker, in Maart 2025 ondersoek.
# Tennis: Die omstrede Australiese speler Nick Kyrgios het in die openbaar om verskoning gevra nadat hy voorlopig uit die spel geskors is omdat hy positief getoets het vir kokaïen. Die 31-jarige, bekend vir sy gereelde uitbarstings op die baan, was die afgelope paar jaar weens beserings op die kantlyn nadat hy in 2022 by Wimbledon die eindstryd gehaal het. Hy het in Oktober 2016 ‘n loopbaanhoogtepunt van 13de op die wêreldranglys bereik. Kyrgios sê hy het ‘n groot fout begaan nadat hy in Junie tydens ‘n toernooi in Majorka, Spanje, positief vir kokaïen getoets het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-8-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-185-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-519-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 93-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….