Nuus 06:00
BULLETIN 1 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Pandor bevraagteken wat sal gebeur as Israel nie aan die Internasionale Geregshof se bevel gehoor gee nie
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie teken meer as 29-duisend buitelandse Suid-Afrikaanse kiesers-registrasies aan
# En, Fase 3-beurtkrag word tot verdere kennisgewing ingestel
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, sê Suid-Afrika bly onwrikbaar in die bevordering van sy onverbonde benadering tot die handhawing van internasionale vrede en sekerheid. Sy het die media gister ingelig oor die voortslepende konflik tussen Israel en Hamas ná die uitspraak deur die Internasionale Geregshof. Die Hof het Israel beveel om alles in sy vermoë te doen om die benadeling van en moord op Palestyne in Gaza te stop. Pandor sê die werklike vraag waarmee nasies nou worstel, is wat sal gebeur indien Israel nie aan die bevel voldoen nie:
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het ‘n toename in buitelandse Suid-Afrikaanse kiesers-registrasies aangeteken, met getalle wat 29-duisend-318 bereik het ná die onlangse registrasienaweek. Die kommissie moedig voortgesette registrasies aan deur die aanlyn proses wat op sy webwerf toeganklik is. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, het tydens ‘n nuuskonferensie gesê die kieserslys se uitbreiding weerspieël die kommissie se toewyding om inklusiewe demokratiese verteenwoordiging te verseker:
# Eskom sê fase drie-beurtkrag word nou tot verdere kennisgewing ingestel in plaas van die wisseling tussen fase drie en twee wat vroeër aangekondig is. Hy sê dit is om energiereserwes aan te vul en weens onvoldoende beskikbare opwekkingsvermoë. Die kragverskaffer sê hy sal die situasie fyn dophou en aankondig indien daar enige betekenisvolle veranderinge op die netwerk plaasvind.
# Die eThekwini-burgemeester, Mxolisi Kaunda, het net-net ‘n mosie van wantroue oorleef. Van die 209 raadslede wat die raadsvergadering in Durban bygewoon het, was 109 teen die mosie gekant, twee het buite stemming gebly en 98 was daarvóór. Die IVP het die mosie in November verlede jaar met steun van die DA ingedien, en het onder meer diensleweringskwessies en verdoemende bevindings deur die ouditeur-generaal as redes aangevoer. Kaunda sê sy fokus bly die lewering van dienste aan inwoners, en veral om die huidige wateruitdagings aan te pak:
# Rusland en Oekraïne het die uitruiling van gevange soldate bevestig en sê beide lande het sowat 200 van hulle militêre personeellede teruggekry. Rusland stel die aantal van sy uitgeruilde soldate op 195, terwyl die president van Oekraïne, Wolodimir Zelensky, sê 207 van sy land se soldate en burgerlikes het teruggekeer. Dit is die eerste uitruiling sedert ‘n vliegongeluk in Rusland, waarin Moskou sê 65 Oekraïnse krygsgevangenes dood is. Kiëf bevraagteken dit, terwyl Russiese ondersoekers sê inligting van die vliegtuig se vlugopnemers dui aan dit is deur ‘n missiel afgeskiet.
# Rugby: SA Rugby het Peter Jooste as die nuwe administrateur van die Westelike Provinsie Rugbyunie aangestel. Hy volg Max Fuzani op, wat uitgetree het ná sy aanstelling as spesiale raadgewer vir die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa. Die rugbyunie is sedert Oktober 2021 onder administrasie en het groot skuld, wat blykbaar meer as 500-miljoen-rand beloop. Die president van SA Rugby, Mark Alexander, het Jooste bedank dat hy die rol oorgeneem het om die unie uit administrasie te lei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-11-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-40-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….