Nuus 06:00
BULLETIN 19 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party en UAT se aansoek om verlof tot appèl sal Vrydag aangehoor word
# Die dodetal in Zimbabwe se veerbootramp styg tot 93
# En krieket: ’n Nuwe tydperk begin vir Engeland met hul eerste toets teen Pakistan
# Die MK-party en United Africans Transformation het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen die bevel van die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat openbare verhore deur die Parlement se Artikel 89-ampsklagkomitee teen president Cyril Ramaphosa staak. Dit volg na die Konstitusionele Hof se weiering verlede week om ‘n direkte appèl aan te hoor, omdat die saak volgens die hof nie tans in belang van geregtigheid is nie. Die Hooggeregshof se tussentydse interdik bly van krag hangende Ramaphosa se hersiening van die onafhanklike paneel se verslag. Die appèl sal Vrydag aangehoor word.
# Daar word verwag dat die Nasionale Vervolgingsgesag die strafsaak teen Misdaadintelligensie-baas Dumisani Khumalo, en ook die hoof van die polisie se Misdaadintelligensie Tegniese Ondersteuningsdienste, Dineo Mokwele en hul medebeskuldigdes gaan terugtrek. Die NVG het voorheen gesê die aanklagte sal voorlopig teruggetrek word terwyl die saak hersien en enige verdere bewyse oorweeg word. Die regspanne vir Khumalo en Mokwele het aangedring op ‘n onvoorwaardelike terugtrekking. Die NVG beplan om die saak Vrydag ten volle en sonder voorwaardes terug te trek.
# Die moordbeskuldigde Katiso “KT” Molefe, die oorlede taxibaas Mswazi Msibi en sakeman Steve Motsumi het na bewering hulself as staatsamptenare voorgedoen terwyl hulle met buitelandse verskaffers van toesigtegnologie sake gedoen het. Die getuienisleier Matthew Chaskalson het aan die Madlanga-kommissie gesê selfoonkommunikasie dui daarop dat die mans betrokke was by pogings om spioenasie- en stemsteuringstegnologie aan die Eswatini-regering te verkoop. Chaskalson het gesê dit bly onduidelik of die transaksie afgehandel was:
# Die Gautengse Onderwysdepartement het ‘n manlike onderwyser van Minerva Secondary School in Alexandra geskors na verskeie leerders se bewerings van seksuele wangedrag en teistering. Die bewerings hou verband met onbehoorlike kommunikasie tussen die leerkrag en leerders, wat na bewering in Junie begin het en deur WhatsApp en ander interaksies voortgeduur het. Die departement se woordvoerder, Onwabile Lubhelwane, sê enige bewering van onbehoorlike gedrag teenoor ‘n leerder moet deeglik en sonder vooroordeel ondersoek word:
# Die dodetal van Zimbabwe se Karibameer-veerbootramp het tot 93 gestyg, terwyl duikers voortgaan met soek- en herwinningspogings. Die veerboot wat verlede week omgeslaan het, het plek vir 90 passasiers gehad, maar in werklikheid was daar ten minste 168 mense aan boord. Sewe-en-sewentig mense is gered in die land se dodelikste vervoerramp ooit. Zimbabwe se minister van Plaaslike Regering en Openbare Werke, Daniel Garwe, sê die tragedie is veroorsaak deur die nalatigheid van die oorlede veerbootkaptein:
# Krieket: Die begin van die eerste toets teen Pakistan op Headingley in Leeds vandag lui ‘n nuwe era in vir Engeland, met ‘n nuwe kaptein en ‘n nuwe afrigter. Ben Stokes het ná die Junie-reeks teen Nieu-Seeland uitgetree, terwyl Brendon McCullum as afrigter van die toetsspan afgedank is. Hy sal uiteindelik vervang word deur die voormalige Nieu-Seelandse speler Stephen Fleming. Die voormalige Engelse speler Marcus Threscothick sal die span afrig vir die drie toetse teen Pakistan. Joe Root hervat die kapteinskap wat hy in 2022 laat vaar het om homself op sy kolfwerk toe te spits.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-556-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-335-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 92-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….