Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Augustus 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het met die oorname van die voorsitterskap van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap gesê die volle potensiaal van die streek se ekonomie is nog nie ontsluit nie. Ramaphosa sê die streek moet plaaslike produksie verhoog, tariefhindernisse verwyder en infrastruktuur verbeter.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die 27-jarige Lelethu Nkosana wat gister in die Hooggeregshof in Gqeberha skuld beken het vir die moord op en verkragting van die agtjarige Veronique May van Langa in Kariega is deur die slagoffer se ma, Destiny, as ‘n monster beskryf. Hy is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
En tweedens skryf die webblad die 49-jarige Lucas Mmakgathi van Rustenburg in Noordwes is tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy sy tweejarige seuntjie in 2024 met ‘n skoenveter verwurg het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die MK-party en United Africans Transformation het opnuut ‘n dringende aansoek om verlof tot appèl ingedien teen ‘n uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof ten gunste van Ramaphosa oor die werksaamhede van die Ampsklagkomitee. Die koerant berig die aansoek is gister ingedien.
# Sowetan:
Berig oor die getuienis van die omstrede sakeman, Vusimuzi “Cat” Matlala, voor die Madlanga-kommissie. Die koerant skryf die getuienis is gekenmerk deur Matlala wat voortdurend vrae ontduik omdat dit hom in strafregtelike sake kan inkrimineer.
# En The Citizen:
Skryf Ramaphosa het geen melding gemaak nie van migrante, deportasie of xenofobie toe hy SAOG-lande aangemoedig het om grense in bruê te verander vir sterker ekonomiese bande.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die weiering van borg aan die omstrede sakeman en geskorste prokureur, Peet Viljoen. Die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Pretoria het beslis Viljoen het nie ‘n vaste woonadres nie en daar bestaan ‘n gevaar van inmenging met staatsgetuies.
En tweedens skryf die koerant die onderleier van die EFF, Godrich Gardee, sê die party gaan nie terugstaan in die plaaslikeregeringsverkiesing nie. Die EFF mik daarna om selfs in Stellenbosch en Constantia die beheer oor te neem.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Lei met: “JAILED FOR LIFE!” Die koerant berig ook oor die vonnis van Lelethu Nkosana vir die moord en verkragting van die agtjarige, Veronique May.
En tweedens skryf die koerant oor die dramatiese reddingspoging van ‘n hond wat 200 meter deur die see ingetrek was.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die stad maak gereed vir ‘n reusestaking nadat die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie die Msunduzi-munisipaliteit beskuldig het dat hulle te kwader trou beding en nie aan sleutelwerkers se eise voldoen nie. Die staking sal na verwagting nie net vullisverwydering raak nie, maar ook herstelwerk aan die krag- en waternetwerk.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar heers kommer oor die hoeveelheid sogenaamde maermaak-spuitstof wat Namibië instroom. Die koerant skryf volgens ‘n apteker gaan dit nie net oor die veiligheid van pasiënte nie, maar ook oor medikasie wat onwettig ingevoer en verkoop word, en belasting wat ontduik word.
En tweedens skryf die koerant altesaam 18 renosters is vanjaar in Namibië vir hul horings gestroop met 13 in beskermde gebiede en vyf op kommersiële plase.