Nuus 06:00
BULLETIN 30 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika gaan die VN-Veiligheidsraad nader om die Internasionale Geregshof se bevel teen Israel af te dwing
# Israel maak ’n nuwe gyselaar-uitruilvoorstel aan Hamas
# En tennis, Pous Franciskus wens Jannik Sinner geluk met sy eerste Grand Slam-titel
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika gaan die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad nader om te verseker dat Israel hou by die uitspraak van die Internasionale Geregshof. Die hof het Israel Vrydag beveel om alle moontlike maatreëls te tref om dade te voorkom wat op volksmoord teen Palestyne in die Gaza-strook kan neerkom. Ramaphosa het gister by die afsluiting van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee-vergadering sy oproep vir die hervorming van Veiligheidsraad herhaal:
# Israel het ingestem tot ‘n voorstel wat sal meebring die oorblywende Hamas-gyselaars wat in die land aangehou word, word vrygelaat. Die ooreenkoms is bemiddel deur onderhandelaars van Israel, Amerika, Egipte en Katar en ʼn konsep is aan Hamas voorgelê. Daarvolgens sal gyselaars wat deur Hamas aangehou word in fases vrygelaat word te midde van die staking van gevegte en die lewering van hulp aan Gaza. Palestynse gevangenes wat deur Israel aangehou word, sal ook vrygelaat word. Hamas hou na raming meer as 100 gyselaars in Gaza aan.
# Die nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê daar was ‘n aansienlike verbetering in polisiehulpbronne sedert die burgerlike onrus in Julie 2021. Hy het reageer op die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se verslag oor die geweld en plundering, hoofsaaklik in KwaZulu-Natal en Gauteng. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê om kritieke vakatures in misdaadintelligensie te vul geniet voorkeur, met die ontplooiing van 20-duisend opgeleide beamptes en die versterking van die polisie se Openbare Orde-eenheid:
# Die polisie in Gauteng het ‘n soektog begin na aanleiding van ‘n noodlottige skietery gister by ‘n skenkingsfunksie in Zakariyyapark. Ongeïdentifiseerde verdagtes het die perseel in die suide van Johannesburg binnegekom en skote afgevuur voordat hulle in ‘n wit voertuig gevlug het. Die voorval het tot die dood van twee mense gelei, met nog drie wat skietwonde opgedoen en in die hospitaal opgeneem is. Die polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, het bevestig die Stad Johannesburg se hoofsweep, Sithembiso Zungu, is een van dié wat gewond is:
# Die IVP in KwaZulu-Natal se premierskandidaat, Thami Ntuli, sê dis pynlik om te sien hoe die provinsie onder korrupsie, swak bestuur en onetiese leierskap verkrummel. Hy is die burgemeester van die King Cetshwayo-distriksmunisipaliteit en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering in die provinsie. Die IVP-president, Velenkosini Hlabisa, het Ntuli beskryf as die kandidaat wat die beste toegerus en die mees ervare en toegewyde persoon is om goeie regering in die provinsie te verseker. Ntuli sê die droom van ʼn vooruitstrewende provinsie sal slegs waar word indien mense vir die IVP stem.
# Tennis: Die Italianer, Jannik Sinner, is geluk gewens deur niemand anders nie as pous Franciskus nadat hy sy eerste Grand Slam-titel by die Australiese Ope ingepalm het. Die 22-jarige is die eerste Italiaanse speler in 48 jaar om ‘n Grand Slam-toernooi te wen, sedert Adriano Panatta op die Franse Ope in 1976. Franciskus het Sinner en Italianers gelukgewens terwyl hy ʼn oudiënsie aan ʼn Spaanse tennisklub toegestaan het. Sinner is afkomstig van die Duitssprekende streek Suid-Tirool. Hy het met sy oorwinning in Melbourne ‘n stewige 40-miljoen-rand huis toe geneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-491-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-30-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….