Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Augustus 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Madlanga-kommissie het getuienis aangehoor dat die KwaZulu-Natalse polisie se weergawe van die dood van die taxibaas, Bevan Loftus, hoogs onwaarskynlik is en dat dit eerder ‘n huurmoord onder die dekmantel van ‘n polisie-optrede was. Die bevelvoerder van die eenheid, kaptein Deena Govender, moet nog voor die kommissie verskyn.
# Mail & Guardian:
Skryf die families van slagoffers en oorlewendes wag steeds vir geregtigheid, 14 jaar na die Marikana-slagting. Die polisie het 34 stakende mynwerkers doodgeskiet ná dae van spanning by die myn.
# Die Papier:
Berig oor oudminister Naledi Pandor se kritiek teen die bou van die eksklusiewe Afrikaanse universiteit, Akademia, in Pretoria. Die voorsitter van die Dagbreek-trust, Theuns Eloff, sê Pandor praat uit ‘n ideologiese hoek en vergeet die Grondwet gerieflikheidshalwe.
Tweedens het die koerant ‘n onderhoud gevoer met voormalige uitvoerende hoof van South Africa Day, Barend la Grange. Hy sê die leuen oor beweerde wit volksmoord het Afrikaners se reputasie asook rasseverhoudige in die land geskaad.
En laastens word berig ‘n twis tussen die leidende figure in die VF Plus in Tshwane het tot ingryping deur die party se nasionale leierskorps gelei. Die leier van die party se plaaslike koukus, Grandi Theunissen, is sy pos kwyt. Die onenigheid gaan glo oor ‘n grondtransaksie in Groenkloof.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die geskorste adjunkhoof van Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, beweer in sy borgtogaansoek dat hy slegs vervolg word om te keer dat hy hoof van die metropolisie word.
En tweedens skryf die webblad die MK-party wil hê die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, moet voor die Madlanga-kommissie verskyn om oor sy aandeel in ‘n beweerde komplot teen die polisiekommissaris te getuig.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Mpumalanga Departement van Gesondheid word ten volle aanspreeklik gehou vir die skade wat ‘n kind gely het wat ‘n breinbesering tydens sy geboorte in die Piet Retief-hospitaal in 2009 opgedoen het. Die Hooggeregshof in Mbombela het bevind dat daar onvoldoende fetale monitering tydens die geboorte was. Die eis beloop nagenoeg 16-miljoen-rand.
# Sowetan:
Berig oor hoe die polisie te werk gegaan het om die moord op Mahlako Malebo Rabalao te bewys. ‘n Prokureur, Thubelihle Sbonakaliso Mpisi, is skuldig bevind en tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
# En The Citizen:
Skryf talle nuwe vorme van krediet- en debietkaartbedrog het na vore gekom en verbruikers word gemaan om uiters versigtig te wees. ’n Pensioenaris in KwaZulu-Natal het 421-duisend-rand in net twee dae verloor.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig parlementslede het die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, gekritiseer oor die geraamde tekort van 15-miljard-rand van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente by universiteite en kolleges. Daar is ook ongelukkigheid oor die raadgewers by die fonds wat deur die hoof, professor Hlengani Mathebula, teen sowat 200-miljoen-rand aangestel is.
En tweedens skryf die koerant oor die familie van Mitchell’s Plain wat na bewering ‘n 11-jarige dogtertjie vir honderd-rand uithuur. Twee verdagtes het in die hof verskyn.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar bestaan kommer oor die uitbreking van die parvo-virus onder diere in Seaview. Inwoners is versoek om op hul hoede te wees.
En tweedens skryf die koerant oor die veiligheid van vrouestudente wat in woonstelle buite die kampusterrein woon.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar is talle nuwe gerugte oor Russiese huursoldate wat in Suid-Afrika gewerf word.
En berig oor die nuwe slim elektrisiteitsmeters wat in Pietermaritzburg geïnstalleer word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Olympia Eye Institute Private Hospitaal gaan appelleer teen die Namibiese Vereniging vir Mediese Fondse se besluit om nie ’n private hospitaalpraktyknommer aan hom toe te ken nie.
En tweedens skryf die koerant Namibiese ondernemings is traag om nuwe lenings toe staan aangesien die ekonomie nie aktief genoeg is om opbrengste te lewer nie.