Nuus 06:00
BULLETIN 14 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Eskom se herstruktureringsproses sal verantwoordelik gedoen word
# Die MK-party wil hê Ian Cameron moet voor die Madlanga-kommissie verskyn
# En rugby: Daar is slegs drie groeprondes oor voor die Curriebeker-halfeindronde
# President Cyril Ramaphosa sê die regering sal die proses om ‘n volledig onafhanklike, staatsbeheerde transmissiemaatskappy te vestig, versigtig en verantwoordelik onderneem. Hy het die fase-een-verslag van die Eskom-herstruktureringstaakspan ondersteun, wat die haalbaarheid van die vestiging van ‘n Transmissiestelseloperateur met netwerkbates uiteensit. Ramaphosa sê die proses moet die minimalisering van finansiële, operasionele en fiskale risiko; die versterking van energiesekerheid; en die bydrae tot die vermindering van die koste van elektrisiteit bereik:
# Die MK-party het begin met formele verrigtinge in beide die Parlement en voor die Madlanga-kommissie teen die voorsitter van die portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron. Sy naam is by die kommissie genoem in verband met bewerings dat hy deel was van ‘n komplot deur die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie om die geskorste nasionale kommissaris, Fannie Masemola, te verwyder. Cameron het die bewerings ontken. Die MK-party sê Cameron moet voor die kommissie verskyn om getuienis te lewer, en verseker dat sy weergawe van die gebeure amptelik onder eed op die rekord geplaas word.
# FMD Response SA het die eerste privaat aangekoopte bek-en-klouseer-entstowwe wat aan privaat veeartse gelewer word, verwelkom. Die organisasie glo die bekendstelling wys wat die regering en die privaat sektor kan bereik deur saam te werk. Andrew Morphew van die organisasie het die Departement van Landbou versoek om gereeld inligting te deel oor waar daar uitbrekings is en watter virusstamme betrokke is, aangesien dit boere en veeartse sal help om beter besluite te neem om vee te beskerm:
# Die DA het ‘n vyfpuntplan bekendgestel om Ekurhuleni weer aan die gang te kry voor die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November. Die party het belowe om korrupsie die hoof te bied, paaie en infrastruktuur te herstel, water- en elektrisiteitsdienste te verbeter, gemeenskapsveiligheid te versterk en meer plaaslike werksgeleenthede te skep. Khathutshelo Rasilingwane van die DA sê beter finansiële bestuur en deursigtige regering is die sleutel tot die herstel van basiese dienste en die herbou van openbare vertroue in die metro.
# Oekraïnse boere ly groot verliese sedert Rusland dele van die suide aan die begin van die inval in 2022 beset het. Oekraïne is een van die wêreld se grootste produsente van koring, mielies en sonneblomsaad en ongeveer 90-persent van sy uitvoere gaan deur die land se Swartsee-hawe. Aanvalle deur Russiese magte het landbou-uitvoere byna tot stilstand gedwing. Oekraïne se belangrikste boere-vakbond, UAC, så tensy voorrade betyds opdaag kan hongersnood uitbreek in sommige invoer-afhanklike lande reg oor Afrika en die Midde-Ooste, wat groot kopers van Oekraïnse graan is.
# Rugby: Slegs drie groeprondes is oor voor die Curriebeker-halfeindstryde. Griekwas is tans bo aan die punteleer na drie oorwinnings en een nederlaag, gevolg deur die Cheetahs. Die Leeus is derde en die Pumas vierde. Die Boland Kavaliers is vyfde gevolg deur die Stormers. die Haaie en die Bulle. In vandag se wedstryde gaan die Leeus en die Boland in Johannesburg sake uitspook, en die Griekwas verwelkom die Haaie in Kimberley. Môre is die Pumas die gashere vir die Stormers in Mbombela en Sondag pak die Blou Bulle die Cheetahs op Loftus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-520-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-357-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….