Nuus 13:00
BULLETIN 12 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Grensbestuursowerheid onderskep meer as vier-duisend ongedokumenteerde buitelandse burgers wat Suid-Afrika weer probeer binnekom
# Die Presidensie berispe Eskom se voorsitter oor sy herstrukturerings-bekommernisse
# En rugby: Nonu se reaksie op die haka maak opslae in die rugbywêreld
# Die Grensbestuursowerheid sê die onlangse massa-uitsettings het nie daarin geslaag om buitelanders te ontmoedig om die land weer binne te kom nie. Altesaam 89-duisend-936 mense is teen 7 Augustus uit die land gerepatrieer, teen ‘n koste van byna 293-miljoen-rand. Die owerheid het vier-duisend-229 individue vanaf Zimbabwe, Lesotho en Mosambiek onderskep wat tussen 1 April en 31 Julie probeer het om sonder geldige dokumente die land binne te kom. Kommissaris Michael Masiapato sê hulle het nou begin met die afdwinging van strenger toegangsmaatreëls.
# Die Presidensie het Eskom se voorsitter, Mteto Nyati, tereggewys omdat hy in die openbaar planne bevraagteken het om die kragvoorsiening te herstruktureer. Hy het gewaarsku dat die oordrag van transmissiebates leningsooreenkomste, rekeningkunde en effektehouers kan beïnvloed. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die regering is daartoe verbind om te verseker dat Eskom nie finansieel swakker tree uit die ontbondelingsproses nie. Hy sê Eskom se bekommernisse is met die regering bespreek, terwyl die Tesourie voorberei om met leners te praat oor die beplande skeiding van die transmissie-afdeling.
# Die Motorbedryf-personeelvereniging is bekommerd oor die stygende werkloosheidsyfer, wat tussen April en Junie tot 33,6-persent gestyg het. Volgens die vakbond het 345-duisend meer mense werkloos geraak, terwyl jeugwerkloosheid tot 47,4-persent gestyg het. Phakamile Hlubi-Majola van MISA vra die regering, sake-ondernemings en arbeid om saam te werk om permanente werkgeleenthede te skep, in vaardighede te belê en klein ondernemings te ondersteun om die groeiende werkloosheidskrisis die hoof te bied:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, het ‘n dringende ondersoek gelas na bewerings van seksuele wangedrag wat onderwysers en leerders van die Spesiallisskool Curtis Nkondo in Emdeni, Soweto, betrek. Die departement se woordvoorder, Onwabile Lubhelwana, sê ‘n graad 11-leerder se klagte teen ‘n onderwyser word ondersoek, sowel as ander bewerings wat onderwysers betrek. Hy sê die ondersoek sal vasstel of klagtes voorheen aangemeld is en of amptenare gepas opgetree het:
# Rugby: Die All Black-legende, Ma’a Nonu, se alleen-man-antwoord op sy gewese spanmaats se haka maak steeds opslae in die rugbywêreld. Die 44-jarige veteraan van 103 toetse het in Durban vir die Haaie teen Nieu-Seeland gespeel. Almal op Kingspark, insluitend die spelers, het in verwondering gestaan toe Nonu die grootste teken van Maori-respek aan die teenstanders betoon het toe hy die besoekers se uitdaging namens die gashere aanvaar het. Die All Blacks het uiteindelik 54-0 geseëvier, maar Nonu se antwoord sal waarskynlik onthou word eerder as die telling.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-898-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-414-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….