Nuus 08:00
BULLETIN 12 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
Suid-Afrika wil vergoeding van buitelandse regerings hê vir repatriasies
Die DA sê die jongste meningsopname toon dat sy steun groei
En netbal: Kaapstad klop Tshwane om die Nasionale Netbalkampioenskap te wen
# Die Suid-Afrikaanse regering eis vergoeding van die regerings van Malawi, Nigerië en Ethiopië vir die koste om hul landsburgers te repatrieer. Die Grensbestuursowerheid het bekendgemaak dat 89-duisend-936 mense teen 7 Augustus deur Suid-Afrikaanse grensposte gerepatrieer is. Die Departement van Binnelandse Sake se direkteur-generaal, Tommy Makhode, sê die massa-repatriasie van onwettige buitelanders het die staat byna 293-miljoen-rand gekos, wat meer as vyf keer die departement se jaarlikse toelaag vir deportasies is:
# Die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur, NATJOINTS, sê alle beskikbare hulpbronne is ontplooi om die veiligheid van 12 staats- en regeringshoofde te verseker wat die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se beraad op 16 en 17 Augustus in Durban bywoon. Omvattende voorbereidings vir sekuriteit is reeds in plek by die Durban Internasionale Konvensiesentrum, en intelligensiestrukture monitor die omgewing. NATJOINTS se voorsitter, Tebello Mosikili, sê hulle het reeds ‘n Zimbabwiese burger gearresteer wat probeer het om akkreditasie vir die geleentheid te kry:
# Die DA sê die nuutste opname deur die Sosiale Navorsingstigting toon die party se nasionale steun het tot 30-persent gestyg, wat die gaping met die ANC tot sewe persentasiepunte verminder, voor die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November. Die peiling plaas die ANC se nasionale steun op 37-persent, met die DA op 30-persent, terwyl die DA in Gauteng met 37-persent voorloop teenoor die ANC se 31-persent. Ashor Sarupen van die party sê die peiling weerspieël groeiende steun vir die DA se veldtog, wat fokus op die verbetering van dienslewering, infrastruktuur en werkskepping.
# Nooddienswerkers werk onverpoosd om oorlewendes te vind nadat ʼn aardbewing van 7.4 Maandag die weste van Colombia getref en meer as 240 lewens geëis het. Byna twee-duisend-600 mense is beseer en sowat 200 word vermis. Naskokke het gister in Cali voorgekom wat een van die stede is wat die ergste deurgeloop het. Nooddienswerkers in Cali het 37 mense gered uit sommige van die 40 geboue wat heeltemal ineengestort het. Colombia se president, Abelardo de la Espriella, sê die grootste prioriteit is om soveel as moontlik lewens te red.
# Netbal: Kaapstad het ‘n naelskraapse oorwinning van 56-55 oor Tshwane behaal en daarmee die Nasionale Netbalkampioenskapstitel by Stellenberg Hoërskool in Kaapstad ingepalm. Sigi Burger het in die laaste oomblikke ‘n doel aangeteken en ‘n oorwinning vir die tuisspan verseker. Mangaung het ‘n spannende oorwinning van 45-44 oor Johannesburg behaal in die uitspeelwedstryd om die derde plek. In die Onder 21-afdeling van die kampioenskap het die verdedigende kampioen Johannesburg met 52-38 teen Tshwane geseëvier. Kaapstad se kaptein, Sian Moore, sê sy is trots op haar span se veggees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-778-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-404-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….