Nuus 13:00
BULLETIN 8 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mmamoloko Kubayi ontken inmenging by WVK-sake
# Eskom rapporteer sy hoogste energiebeskikbaarheid in ses jaar
# En atletiek, Jan-Hendrik Heymans wen eerste goud vir Suid-Afrika by die Wêreld o.20 Kampioenskap
# Die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, sê sy het nog nooit probeer om ondersoeke of vervolgings rakende Waarheids- en Versoeningskommissie-sake te stop nie. Kubayi het gister voor die Ondersoek na WVK-sake getuig. Sy het die onafhanklikheid van die Nasionale Vervolgingsgesag beklemtoon en gesê aanklaersbesluite berus uitsluitlik by die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging. Sy sê haar rol is beperk tot toesig en verantwoordbaarheid, insluitend verslagdoening aan die Parlement:
# Ernst van Zyl van AfriForum sê uitgerekte onsekerheid oor eiendomsregte ondermyn steeds beleggersvertroue en benadeel Suid-Afrika se ekonomie. Sy uitsprake volg nadat die Wes-Kaapse Hooggeregshof die grondwetlike uitdaging van die Onteieningswet uitgestel het, omdat sommige regspanne nie die geleentheid gehad het om hul argumente aan te bied nie. Van Zyl voer aan sleutelgedeeltes van die Wet wat onteiening sonder vergoeding toelaat, is ongrondwetlik:
# Eskom se energiebeskikbaarheidsfaktor vir die jaar tot op datum is nou 67,24-persent, die sterkste finansiële prestasie op ‘n jaargrondslag in ses jaar. Die nutsmaatskappy sê onbeplande onderbrekings het met 28,3-persent gedaal, met dieseluitgawes wat meer as 83- persent minder is. Eskom kon aan die aanvraag voldoen met geen beurtkrag vir 448 agtereenvolgende dae nie. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê lasvermindering is in ses provinsies heeltemal uitgeskakel met die kragvoorsiener op koers om dit teen 2027 landwyd uit te skakel.
# Atletiek: Jan-Hendrik Heymans het goud verower met ‘n massiewe persoonlike beste van 80,50 meter in die eindronde van die spiesgooi vir mans, by die 2026 Wêreldatletiek o.20-kampioenskap op die Mayfield-stadion in Oregon in die VSA. Ander Suid-Afrikaners het ook op die wêreldverhoog geskitter. Jaco van Dyk het ‘n bronsmedalje gewen in die gewigstoot vir mans met ‘n poging van 19,80 meter. Marko Ferreira het ook brons ingepalm in die mans 100 meter-naelloop en die wenstreep in 10,16 sekondes oorgesteek.
# Sokker: Dis nou of nooit vir Banyana Banyana wanneer hulle vanaand om tien-uur teen die gasvroue Marokko speel, in ‘n deurslaggewende Vroue-Afrikabeker-kwarteindstryd op die Moulay El Hassan-stadion in Rabat. ‘n Oorwinning sal ‘n halfeindstryd vir Suid-Afrika verseker en die span vir die 2027 FIFA Wêreldbeker laat kwalifiseer. Afrigter Desiree Ellis sê die wedstryd is ‘n herhaling van die 2022 WAFCON-eindstryd:
# En tennis: Die Amerikaner Ben Shelton is op koers met sy titelverdediging by die Ope in Montreal en deur na die vierde ronde danksy ‘n oorwinning in skoon stelle oor Zizou Bergs van België. Die vyfde gekeurde Shelton het met 6-3, 6-2 gewen en is nou die beste gekeurde speler wat nog oorbly. Sy afslane was uitstekend en hy het al 16 sy afslaanpunte in die tweede stel gewen. Die 23-jarige verdedigende kampioen het ook vir die eerste keer hierdie seisoen agtereenvolgende ATP Meester 1000-oorwinnings behaal en kom in die volgende ronde teen Casper Ruud of Joao Fonseca te staan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….