Nuus 08:00
BULLETIN 9 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa lei vandag die Nasionale Vrouedag-viering
# Babita Deokaran word met ‘n standbeeld vereer
# En die Bokke oorleef teen die Pumas
# President Cyril Ramaphosa is vandag die hoofspreker tydens die Nasionale Vrouedag-herdenking by die Uniegebou in Pretoria. Die geleentheid is die 70ste herdenking van die historiese Vroue-optog van 1956 teen apartheidswette. Vanjaar se tema is “Bemagtigde Vroue, Bemagtig Nasies.” Die regering sê die viering sal fokus op die verbetering van vroue se toegang tot gehalte gesondheidsorg terwyl geslagsgelykheid bevorder en die nalatenskap vereer word van vroue wie se stryd Suid-Afrika se demokrasie help vorm het.
Intussen word die lewe en nalatenskap van die vermoorde teen-korrupsie-fluitjielaser, Babita Deokaran, word vereer met die onthulling van ‘n standbeeld by die Shri Mariammem-tempel, noord van Durban, KwaZulu-Natal. Dit vorm ook deel van Suid-Afrika se Vrouedag-herdenking. Deokaran is op 23 Augustus 2021 buite haar huis in Johannesburg vermoor nadat sy meer as 850-miljoen-rand se verdagte, bedrieglike verkrygingstransaksies en tenderbetalings gekoppel aan Tembisa-hospitaal ontbloot en uitgewys het. Die gedenkteken het ten doel om haar nalatenskap van moed en integriteit te bewaar om die stryd teen korrupsie te inspireer.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement het pogings verskerp om tienerswangerskappe en MIV-infeksies onder jongmense te voorkom. Die LUR vir Gesondheid, Faith Mazibuko, het meisies en seuns aangespoor om toegang tot korrekte gesondheidsinligting en jeugvriendelike dienste te verkry. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê Lenacapavir, ‘n tweejaarlikse MIV-voorkomingsopsie vir MIV-negatiewe mense wat daarvoor kwalifiseer, is by 133 openbare gesondheidsorgfasiliteite regoor Gauteng beskikbaar:
# COSATU doen ‘n beroep op die ANC-geleide regering om werksgeleenthede in die plaaslike farmaseutiese vervaardigingsbedryf te red. Die vakbond sê tweeduisend-500 werkgeleenthede het die afgelope 18 maande in die sektor verlore gegaan, met nege vervaardigers wat volgens berigte gesluit het. Die federasie blameer die regering se verkrygingsbeleid wat goedkoper oorsese voorraad bevoordeel. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks doen ‘n beroep op die Departemente van Gesondheid, Finansies en Handel om plaaslike vervaardigers te ondersteun, die Gesondheidsmeesterplan te laat herleef, en medisynevoorsieningskettings te beveilig:
# En ten slotte sportnuus:
# Rugby: Die Springbokke het teen ‘n baie vasberade Argentynse span te staan gekom, maar daarin geslaag om die Pumas gister in ‘n harde stryd met 17-10 in Buenos Aires te klop. Suid-Afrika, was teen rustyd 10-10 gelykop na ‘n vroeë drie deur Benjamín Grondona vir die Pumas, maar kon net voor die fluitjie blaas terugkap deur hulle vleuel, Edwill van der Merwe. Die plaasvervanger-losskakel Handré Pollard het die agtsteman Cameron Hanekom opgestel vir die wen-drie. Die oorwinning het egter sy tol geëis toe kaptein Siya Kolisi in die 25ste minuut die veld met ‘n dyspierbesering moes verlaat.
# En sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging se Nasionale Uitvoerende Komitee het Pitso Mosimane as die nuwe Bafana Bafana-afrigter goedgekeur. SAFA-president Danny Jordaan sê sommige administratiewe sake moet nog afgehandel word, met ‘n amptelike aankondiging wat volgende week verwag word. Mosimane sal Hugo Broos vervang, wat onlangs bedank het nadat hy Suid-Afrika na die 2026 FIFA Wêreldbeker gelei het. Bafana het geskiedenis gemaak deur vir die eerste keer die uitklopfase te haal. Mosimane was voorheen in ‘n tydelike hoedanigheid in beheer van Bafana in 2007 en van 2010 tot 2012.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….