Nuus 08:00
BULLETIN 8 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verskerp die keuring van sy burgemeesterskandidate
# Die nuwe raad van die Openbare Beleggingskorporasie vestig bestuurstrukture om bestendigheid te verseker
# En rugby, vier belangrike Curriebeker-wedstryde word hierdie naweek beslis
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die party breek weg van die tradisionele manier, met streng keuring en onderhoude met burgemeesterskandidate vir die 2026-plaaslike regeringsverkiesing. Mbalula sê die ANC se verkiesingsmanifes is nou gefinaliseer, en meer as tienduisend wykskandidate word landwyd verwerk. Hy het bygevoeg die strenger keuringsproses sal verseker dat bekwame leiers gekies word om plaaslike regering te versterk en dienslewering te verbeter:
Die Afrika Mayibuye-beweging sê intussen hy het kandidate regoor Suid-Afrika om die 2026-plaaslike regeringsverkiesing in alle munisipaliteite te betwis. Die beweging se president, Floyd Shivambu, sê kandidate is geïdentifiseer deur konsultasies in al vierduisend-488 wyke. Shivambu sê die proses het daarop gefokus om etiese, bekwame en gemeenskapsgerigte leiers te vind. Hy sê die benadering weerspieël die groep se verbintenis tot beraadslagende demokrasie, konsultasie en die vestiging van konsensus in plaaslike regering.
# Die nuut-aangestelde Raad van die Openbare Beleggingskorporasie het ontmoet om toesig- en korporatiewe bestuurstrukture te vestig teneinde bestendigheid en kontinuïteit te verseker. Die Raad het ‘n uitspraak deur die Hooggeregshof in Pretoria verwelkom waarvolgens die voorsorgskorsing van die uitvoerende hoof van die korporasie, Patrick Dlamini, ongeldig en onwettig verklaar is. Dlamini het sy pligte as uitvoerende hoof en uitvoerende direkteur intussen hervat. Die Raad sê bewerings in ‘n fluitjieblasersverslag sal onafhanklik ondersoek word en die korporasie sal sy samewerking gee in voortgesette ondersoeke.
# Statistiek Suid-Afrika sê elektrisiteitopwekking het in Junie met 8,1-persent gedaal vegeleke met dieselfde maand verlede jaar, en elektrisiteit beskikbaar vir verspreiding het met 2,8-persent gedaal. Op ‘n maand tot maand grondslag het beide elektrisiteitopwekking en -verspreiding ook in Junie afgeneem, wat laer elektrisiteitproduksie en -verbruik weerspieël. Tsholofelo Ditinti van Statistiek SA sê elektrisiteitopwekking was in die eerste kwartaal 2,5-persent laer as in die eerste kwartaal van die jaar:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, het sy meegevoel betuig met die gesinne van die 17-jarige Cameron Waldeck-Cooks, ‘n leerder van St Stithians College, en die 19-jarige Ethan Coetzee. Albei is Maandag in ‘n gastehuis in Sabie dood gevind. Maile se woordvoerder, Onwabile Lubhelwana, sê die LUR het die publiek gevra om die polisie toe te laat om die ondersoek te voltooi, sonder bespiegelinge of ongeverifieerde inligting. Hy sê veiliger skole en psigo-maatskaplike ondersteuning bly ‘n prioriteit:
# En rugby: die Curriebeker-reeks betree dié naweek ‘n opwindende vierde ronde met vier belangrike wedstryde. Die verdedigende kampioene, die Griekwas, ontvang die Leeus Saterdag in Kimberley vir ‘n kragmeting tussen die voorlopers op die punteleer. Die Bulle 15 pak die Pumas op Loftus Versfeld en hoop om hul veldtog ná ‘n stadige begin weer op dreef te kry. Die Haaie 15 verwelkom die onoorwonne Boland Kavaliers in Durban in nog ‘n belangrike kragmeting. Sondag se enigste wedstryd is tussen die Stormers 23 en die Cheetahs in Kaapstad, met albei spanne wat waardevolle punte najaag in die wedloop na die halfeindstryd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….