Nuus 15:00
BULLETIN 6 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n IDAC-ondersoeker bevraagteken Johnson se bewerings oor bedryfshandleiding
# ‘n Forum vra Ramaphosa om Senzo Mchunu te ontslaan ná onthullings voor die Madlanga-kommissie
# En rugby: Supersport bekom die uitsaairegte vir Rugby’s Greatest Rivalry
# Die hoof van ondersoeke van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Matthews Sesoko, het voor die Madlanga-kommissie getuig hy verstaan nie waarom die voormalige hoof, Andrea Johnson, die direktoraat se bedryfshandleiding as ‘n konsep beskryf nie. Hy het vrae beantwoord van voorsitter Mbuyiseli Madlanga en getuienisleier Thabang Pooe. Sesoko sê die handleiding is op Johnson se bevel versprei en haar hantering van sekere misdaadintelligensie-aangeleenthede is nooit deur die direktoraat gemagtig nie:
Die Activists and Citizens Forum het president Cyril Ramaphosa intussen gevra om die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, af te dank en sê onlangse getuienis voor die Madlanga-kommissie het sy geloofwaardigheid verder geskaad. Woordvoerder Dennis Bloem sê bewerings wat Mchunu verbind met politieke inmenging en besprekings oor veranderings binne Misdaadintelligensie is te ernstig om te ignoreer. Hy voer aan die publiek kan Mchunu nie meer vertrou nie en vra Ramaphosa om in die land se beste belang op te tree.
# Die DA in Gauteng sê dis skokkend dat meer as 22-duisend gevalle van kindermishandeling sedert 2023 aangemeld is, terwyl die provinsiale Onderwysdepartement nie rekenskap kan gee van hoe lank ondersoeke duur nie. Altesaam 695 verkragtings, 423 seksuele aanrandings en 74 gevalle van seksuele teistering is aangeteken. Woordvoerder Sergio Isa dos Santos sê dit wys die ontstellende omvang van mishandeling in skole en die departement se onvermoë om leerders te beskerm:
# Iran waarsku Golfstate enige nuwe Amerikaanse aanval op sy gebied sal vergelding op energie-infrastruktuur reg oor die streek veroorsaak. Reuters berig die Iranse minister van Buitelandse Sake, Abbas Araqchi, het Saoedi-Arabië, Katar en ander streeksvennote gevra om hul invloed te gebruik om verdere militêre optrede deur Washington te voorkom. Die waarskuwing volg nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, onlangs gedreig het om Iran se energie-aanlegte te teiken. Golfstate vra glo diplomasie om groter konflik te vermy wat wêreldwye olievoorrade kan ontwrig en die Midde-Ooste verder onbestendig kan maak.
# Rugby: SuperSport het die uitsaairegte bekom vir Rugby’s Greatest Rivalry, wat beteken Suid-Afrikaanse ondersteuners sal elke wedstryd van die geskiedkundige reeks tussen die Springbokke en die All Blacks regstreeks op DStv en GOtv kan kyk. Die ooreenkoms dek al vier toetse asook die wedstryde tussen die All Blacks en die Stormers, die Haaie, die Bulle en die Leeus. Dit is Nieu-Seeland se eerste volledige toer in Suid-Afrika in 30 jaar. Owerhede sê dit beloof om nog ‘n onvergeetlike hoofstuk in een van rugby se grootste wedywerings te lewer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-572-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-261-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 83-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….