Nuus 06:00
BULLETIN 4 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê toenemende beleggings in hernubare energie skep nuwe geleenthede
# COPE versoek die OVK om kieserregistrasie by skole en universiteite uit te brei
# En rugby: Die Bok-vroue trek saam vir ‘n oefenkamp vir hul toer na Brasilië
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se Billike Energie-oordrag kry momentum, met skoon energie-beleggings wat bevorder word vanuit die buiteland en deur plaaslike firmas. Volgens Statistiek Suid-Afrika het hernubare energie in 2016 slegs twee-persent van plaaslik opgewekte elektrisiteit uitgemaak. Hierdie syfer het in 2024 tot nege-persent gestyg. By vanjaar se Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie is meer as 50-miljard-rand in groen energie-beleggingsbeloftes aangekondig. In sy weeklikse nuusbrief sê Ramaphosa die lok van beleggings in skoon energie is belangrik vir die land se klimaatsvoornemens, inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping.
Intussen verwelkom Business Leadership South Africa Ramaphosa se goedkeuring van die eerste fase van Eskom se herstruktureringsplan, aangesien die debat oor ‘n onafhanklike transmissiestelseloperateur verby is en implementering nou moet begin. In haar weeklikse nuusbrief het BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, gesê die hervormings sal help om ‘n mededingende elektrisiteitsmark te skep, beleggings te lok en energiesekerheid te verbeter. Mavuso vra vir dringende optrede om Eskom se grootste finansiële uitdaging, die munisipale skuld van 119-miljard-rand, aan te spreek.
# Die Congress of the People het die Verkiesingskommissie versoek om kieserregistrasieveldtogte na skole, TVET-kolleges en universiteite uit te brei om meer jongmense aan te moedig om te registreer. Tom Mofokeng van die party sê die sterk jeugopkoms tydens die onlangse registrasienaweek toon daar is potensiaal om deelname te verhoog voor die plaaslike munisipale verkiesing op 4 November. Mofokeng het ook stemgeregtigde kiesers aangemoedig om te registreer of hul besonderhede op te dateer voordat kieserregistrasie Vrydag sluit:
# Die LUR vir Onderwys in Gauteng, Lebogang Maile, het die moord op ‘n leerkrag van die Michael Zulu Primary School in Tsakane, Ekurhuleni, veroordeel. Die onderwyser is gisteroggend doodgeskiet terwyl hy saam met ‘n groep leerders skool toe gestap het. Die motief vir die skietery is onbekend, en die polisie stel ondersoek in. Die woordvoerder van die LUR, Onwabile Lubhelwana, sê die verlies aan ‘n onderwyser is ‘n diepgaande tragedie, nie net vir die skool nie, maar vir die samelewing as geheel:
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê Iranse leiers is tweegesigte nadat Teheran ontken het dat hy in onderhandelinge met Amerika is. Trump het Sondag aan verslaggewers aan boord van Air Force One gesê ‘n ooreenkoms is naby om die Straat van Hormoes te heropen en onderhandelinge sal Maandag begin. Iran het dit ontken en sê hulle is in gesprek met Oman om ‘n veilige, tydelike roete vir skepe deur die straat te vestig. Trump het op Truth Social gesê die Amerikaanse blokkade van Iranse hawens sal voortduur tensy ‘n ooreenkoms, of totale oorgawe bereik word.
# Rugby: Nege Springbok-vroue is ingesluit in ‘n groep van 30 spelers wat in Somerset-Wes, Kaapstad, oefen in die eerste van twee kampe. Die groep is deel van die Springbok-vroue-akademie, waar spelers wat nie by die toetswedstrydgroepe betrokke is nie, saam oefen as deel van die breër nasionale groep. Die Springbok-vroue A-groep van 26 spelers sal op die 20ste na Brasilië vertrek. Hulle sal in Brasilia en Sao Paulo op onderskeidelik 24 en 29 Augustus teen hul Brasiliaanse teenstanders te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-453-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-53-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….