Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 Augustus 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oor die nuwe brandstofpryse wat die week aangekondig gaan word. Die koerant skryf die dieselprys sal na verwagting styg met ‘n klein daling in die petrolprys. Die vervaardigingsektor sal moontlik verder inkrimp as gevolg van die hoër dieselkoste.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig opposisiepartye in die Gautengse Wetgewer is woedend oor ‘n besoek deur die raad se speaker, Morakane Mosupyoe, en vier senior bestuurders aan ‘n toerismekonferensie in Venezuela wat nooit gerealiseer het nie. Die besoek het die belastingbetaler sowat 5,9-miljoen-rand gekos.
En tweedens skryf die webblad net 62 van die 425 sindikaatleiers wat die polisie oor die afgelope 30 maande gearresteer het, is skuldig bevind. Dit is minder as 15-persent. Die inligting is deur die waarnemende minster van Polisie, Firoz Cachalia, bekend gemaak.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf speurders van Kaapstad se Ernstige Geweldsmisdaad-eenheid stel ondersoek in nadat vier mans Saterdagaand in Nyanga doodgeskiet is toe hulle ‘n pap band wou omruil. Die polisie sê die motief vir die aanval kan vermoedelik taxi-verwant te wees.
# Sowetan:
Berig oor ‘n WhatsApp-bedrogspul met kuberkrakers wat beheer neem oor mense se profiele en dan die persone op hul kontaklyste bedrieg. Misdadigers gebruik die omruil van sim-kaarte en valse verifikasie-versoeke om toegang te verkry.
# En The Citizen:
Skryf die DA en AfriForum se regsaksie in die Wes-Kaapse Hooggeregshof teen die Onteieningswet kan die regering van nasionale eenheid in gedrang bring.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor ‘n vermeende rassevoorval tussen die Fairmont Hoërskool en Settlers Hoërskool tydens ‘n rugbywedstryd. In ‘n video wat op sosiale media versprei word, beëindig die skeidsregter die wedstryd vroeg nadat ‘n rassistiese belediging na bewering gebruik is. Die koerant skryf die Wes-Kaapse Onderwysdepartement stel ondersoek in.
Tweedens skryf die koerant oor vyf lede van die Matthys-familie van Keimoes wat in ‘n ongeluk op die R-27 tussen Calvinia en Brandvlei in die Noord-Kaap omgekom het.
En laastens word berig die soektog na die 17-jarige Sarah Rose Starrett van George duur voort. Sy het moontlik saam met haar biologiese ma weggeloop en bevind haar tans in KwaZulu-Natal.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar heers ernstige kommer dat Nelson Mandelabaai se grondwaterbronne deur die uitloop van rioolwater van die watersuiweringsaanleg besmet word.
En tweedens skryf die koerant leerkragte in die Oos-Kaap word na bewering afgekeur vir aanstellings omdat hulle kwalifikasies nie erken word nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Comrades-marathonvereniging het besluit om volgende jaar se eeufees-marathon sonder die steun van Atletiek Suid-Afrika aan te bied nadat die twee partye nie ‘n ooreenkoms kon bereik nie.
En tweedens word berig Banyana Banyana se WAFCON-hoop hang aan ‘n dun draadjie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ondanks Anna Jan van Epikuro Pos 3 se rype ouderdom van 90, sien sy nog elke dag om na haar sieklike 66-jarige dogter, Katrina. Beide oorleef op ‘n karige pensioen.
En tweedens skryf die koerant Meatco het een van die moeilikste jare in Namibië se veebedryf oorleef en winsgewend gebly. Die aantal beeste wat aan die mark gelewer is het van 75-duisend-268 in die vorige boekjaar tot 35-duisend-594 gedaal, terwyl inkomste met meer as 757-miljoen-rand afgeneem het.