Nuus 06:00
BULLETIN 3 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê daar is geen krisis by die Openbare Beleggingskorporasie nie
# Die DA betwis die Onteieningswet in die Hooggeregshof
# En rugby: Die Pumas klop Boland vir hul eerste oorwinning van die Curriebeker-seisoen
# President Cyril Ramaphosa sê die regering het vinnig opgetree om die bestuursuitdagings by die Openbare Beleggingskorporasie te hanteer, maar daar is geen krisis nie. Die OBK het ‘n nuwe raad onder leiding van die adjunkminister in die Presidensie vir Beplanning, Monitering en Evaluering, Seiso Mohai. Die uitvoerende hoof, Patrick Dlamini, is tans geskors. Ramaphosa het gister tydens die ANC se kieserregistrasieveldtog in Emalahleni, Mpumalanga, gesê die OBK is ‘n belangrike instelling wat beskerm moet word:
# Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, sê sy party begin vandag met sy grondwetlike uitdaging van die Onteieningswet in die Wes-Kaapse Hooggeregshof. Hy sê hulle is in die hof omdat die reg om eiendom te besit fundamenteel is vir vryheid, waardigheid en ekonomiese geleenthede. Hill-Lewis sê geen regering moet vae en omvattende magte kry om sonder vergoeding te vat wat aan Suid-Afrikaners behoort nie:
# Die polisie sê die ondersoek na ‘n besending kokaïen ter waarde van ongeveer 28-miljoen-rand gaan voort om diegene betrokke by die poging te identifiseer en aan te keer. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die besending van 95-kilogram kokaïen wat Vrydag op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kempton Park, Ekurhuleni, aangekom het op ‘n vlug vanaf São Paulo, Brasilië, is onmiddellik onderskep. Sy sê niemand is tot dusver gearresteer nie:
# Die Voedsel-vakbond, FAWU, veroordeel wat hy bestempel as voortdurende intimidasie en druk op sy lede tydens die beskermde staking by Heineken Beverages, Suid-Afrika in Sandton, Johannesburg. FAWU-woordvoerder, Richard Aphane, sê Heineken het werkers ‘n vyf-persent-loonverhoging aangebied, terwyl die vakbondlede ‘n sewe-persent-verhoging oor die algemeen eis. Hy sê werkers toon steeds dissipline, eenheid en toewyding vir die verloop van die beskermde staking. Hy voeg by dat hulle steeds verbind is tot ‘n oplossing deur wettige kollektiewe bedinging.
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê hy het ingestem om aanvalle teen Iran vir eers uit te stel, mits ‘n ooreenkoms vinnig bereik word om die konflik te beëindig. Dit volg op berigte dat Amerika en Israel nuwe aanvalle op Teheran beplan. In ‘n plasing op Truth Social sê hy Iran en ander lande in die Midde-Ooste het hom gevra om aanvalle op Iran uit te stel. Trump sê enige ooreenkoms moet die volledige en totale heropening van die Straat van Hormoes en ‘n einde aan Iran se kernbedreiging insluit.
# Rugby: Die Pumas het alles in die stryd gewerp vir ‘n oorwinning van 20-15 teen die Boland Kavaliers in Wellington. Dis hul eerste oorwinning in die 2026 Curriebeker-seisoen. Die losskakel Nevaldo Fleurs het ‘n man-van-die-wedstryd-vertoning gelewer en 15 punte bygedra, insluitend ‘n drie om die besoekers se oorwinning te verseker. Die Pumas het tot sesde plek op die punteleer opgeskuif, terwyl Boland, na hul eerste nederlaag van die veldtog, aan die einde van ronde drie vierde is. Daar was ook oorwinnings vir die Griekwas, Leeus en Stormers-23 oor die naweek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 22-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-355-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-66-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….