Nuus 07:00
BULLETIN 5 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Unity South Africa en Business4SA vra president Ramaphosa om die grondwetlike integriteit van die Wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering te toets
# Minister Nxesi kondig die nasionale minimum loon vir 2024 aan
# En, Amerika beplan nog wraakaanvalle op Irans-ondersteunde groepe
# Business Unity South Africa en Business4SA doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om die grondwetlikheid van die omstrede Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering te toets. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het voorheen gesê Ramaphosa sal die wetsontwerp waarskynlik voor die algemene verkiesing onderteken. B4SA se woordvoerder Martin Kingston sê gegewe die wetsontwerp se talle grondwetlike foute wat inhoud en prosedure betref, moet die president dit na die Parlement terugverwys vir heroorweging en wysiging voordat dit tot wet onderteken word:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, het ‘n nuwe Nasionale Minimumloonvasstelling aangekondig, van 25-rand-42-sent tot 27-rand-58-sent vir elke gewone uur wat gewerk word. Dit tree op die 1ste van volgende maand in werking. Die departement se woordvoerder, Teboho Thejane, sê die vasstelling sluit in die kwesbare sektore van plaaswerkers en huiswerkers wat sedert 2022 in ooreenstemming met minimumloonkoerse gebring is:
# ANC president Cyril Ramaphosa het die DA-beheerde Tshwane-munisipaliteit gekritiseer omdat die waterkrisis in Mamelodi fase vier nie opgelos word nie. Sommige inwoners het twee weke laas water gehad. Tshwane-burgemeester Cilliers Brink het verlede week gesê die hoofprobleem is onwettige nedersettings wat aan die waterstelsel verbind word. Ramaphosa het gister tydens ʼn verkiesingsregistrasieveldtog in Mamelodi gesê hy sien geen goeie bestuur in die gebied nie:
# Die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement sê hy is bekommerd oor ʼn vlaag gevalle van moontlike voedselvergiftiging by verskeie skole in die land. Die departement ondersoek tans die omstandighede wat daartoe gelei het dat 320 leerders van Osborn High School in KwaBhaca verlede week met simptome van diarree en braking na die hospitaal gehaas is. Honderd-43 leerders van twee Oos-Kaapse skole is onlangs na die hospitaal geneem nadat hulle kos by informele handelaars gekoop het. Die departement se woordvoerder, Sizwe Kupelo, sê hulle doen ook kliniese ondersoeke.
# Amerika het verdere optrede beloof nadat hy groot aanvalle op Irans-ondersteunde groepe in Irak en Sirië uitgevoer het. Hy beskuldig Iran dat hy opdrag gegee het vir ʼn hommeltuig-aanval waarin drie Amerikaanse soldate in Jordanië dood is. Amerika het Vrydag 85 teikens aangeval wat verbind word met militante wat bande het met Iran en Teheran se rewolusionêre wag, en wat tot die dood van 16 mense gelei het. Amerika se nasionale veiligheidsraadgewer, Jake Sullivan, sê hulle sal voortgaan om ʼn duidelike boodskap te stuur dat Amerika sal reageer wanneer sy soldate aangeval en doodgemaak word.
# Rugby: Engeland se losskakel, George Ford, sê die span se benadering tot verdediging en aanval het verander en dis nou lekker om deel daarvan te wees. Steve Borthwick se manne het Italië naelskraaps met 27-25 verslaan in hulle eerste Sesnasies-wedstryd in Rome. Engeland is verlede jaar by die Wêreldbeker gekritiseer omdat hy die bal wegskop en nie genoeg ambisie toon met die bal in die hand nie. Ford sê hulle doelwit is nou om agter die bal te kom, die verdediging aan te val en drieë te druk. Engeland se volgende wedstryd is Saterdag teen Wallis op Twickenham.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-377-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-36-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….