Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 31 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Die wag vir ‘n behoorlike All Black-toer is na drie dekades verby. Die span word vanmiddag amptelik verwelkom op die Kaapstad-stadion, waar die toer volgende Vrydag teen die Stormers afskop. Nieu-Seeland speel ook teen die Haaie, die Bulle en die Leeus, drie toetse teen die Springbokke en ‘n vierde in Baltimore, Amerika. Die laaste keer dat die All Blacks ‘n week-wedstryd in Suid-Afrika verloor het, was teen Vrystaat in 1976.
Nog rugby: Die verdedigende kampioen, Griekwas, verwelkom vanaand die voorloper op die Curriebeker-punteleer, die Cheetahs, in Kimberley aan die begin van die derde ronde. Môre speel die Stormers teen die Haaie in ‘n kus-derby in Kaapstad, gevolg deur die Jukskei-derby tussen die Leeus en die Bulle in Johannesburg. Sondag pak Boland en die Pumas mekaar in Wellington. Boland is tans tweede op die punteleer nadat hulle albei hul eerste wedstryde gewen het. Die Leeus is derde, gevolg deur Griekwas, die Haaie, die Stormers, die Pumas en die Bulle.
# Nuus van die Statebondspele: Die Paralimpiese atleet, Masala Makutu, het Suid-Afrika se eerste baan-en-veldmedalje in Glasgow opgeraap toe hy silwer gewen het in die mans T12 100-meter. Die 20-jarige atleet het ‘n persoonlike beste tyd van 11,04 sekondes behaal. Sinesipho Dambile se blitsige 19,82-sekonde-prestasie is die tweede vinnigste tyd ooit op die Spele, en hy bespreek daarmee sy plek in die mans se 200-meter. Die vrouenetbalspan se medalje-hoop is verpletter toe hulle 58-54 teen Engeland verloor het. Suid-Afrika spog tans met 23 medaljes.
# Krieket: Die veelsydige voormalige Protea-speler, Albie Morkel, is aangestel as Joburg Super Kings se nuwe hoofafrigter vir die komende SA20-seisoen nadat Stephen Fleming vroeër die maand bedank het. Die 45-jarige Morkel was vier jaar lank die hulpafrigter. Hy sê hy sien daarna uit om voort te bou op die sterk grondslag wat hulle reeds geskep het, en die span te help om sy volle potensiaal te bereik. Die vyfde SA20 begin op 17 Januarie en JSK skop sy veldtog die volgende dag af teen Paarl Royals.
En nog krieketnuus, die voormalige Nieu-Seelandse kaptein Stephen Fleming is aangestel as hoofafrigter van Engeland se mans-toetsspan. Die 53-jarige volg sy voormalige internasionale spanmaat Brendon McCullum op, wat vroeër die maand afgedank is, maar aanbly as afrigter van die witbal-spanne. Joe Root is weer as toetskaptein aangestel. Hy was kaptein van 2017 tot 2022 voor hy deur Ben Stokes vervang is, wat nou uitgetree het. Fleming se eerste toetse in beheer is Engeland se toer van drie wedstryde in Suid-Afrika in Desember en Januarie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….