Nuus 06:00
BULLETIN 31 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika ondersteun ‘n vastelandswye konferensie oor migrasie
# OUTA verwelkom die langer geldigheid van rybewyse
# En rugby: Die lang wag vir ‘n behoorlike All Blacks-toer is verby
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika het sy steun herbevestig vir die Afrika-Unie se besluit om ‘n vastelandswye konferensie oor migrasie byeen te roep. Die 49ste Gewone Sitting van die Afrika-Unie se Uitvoerende Raad het besluit om nie migrasie te bespreek tydens die komende AU-middeltermyn-hersieningsvergadering in Egipte nie. Lamola sê ‘n vastelandswye byeenkoms oor migrasie moet migrasie holisties beskou, insluitend die verhouding met vrede en bestendigheid, ekonomiese ontwikkeling, streeksintegrasie en demokratiese regering:
# Die leier van die EFF, Julius Malema sê president Cyril Ramaphosa moenie anders behandel word as enige ander burger nie en die Phala Phala-verantwoordingsproses moet voortgaan. Malema het aan die media gesê die uitspraak van die Hooggeregshof in die Wes-Kaap wat die Parlement se artikel 89-ampsklagondersoek gestaak het, skep ‘n gevaarlike regspresedent deur howe toe te laat om in die Parlement se grondwetlike toesigrol in te meng:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik het die Kabinet se goedkeuring van die tienjaar-rybewyskaarte vir ligte motorvoertuie verwelkom. Die organisasie sê die verandering sal motoriste tyd en geld bespaar en druk op die lisensiehernuwingstelsel verminder. Die uitvoerende hoof van OUTA, Wayne Duvenage, sê die nuwe tienjaar-geldigheidstydperk is nog nie in werking nie, en motoriste moet voortgaan om hul lisensies te hernu onder die huidige reëls totdat die nodige wetlike veranderinge gepubliseer word.
# Die Vryheidsfront Plus het ‘n klag by die Openbare Beskermer ingedien teen die speaker van die Tshwane Metroraad, Mncedi Ndzwanana. Dit volg op die DA se dringende hofaansoek rakende die skorsing van die stadsbestuurder, Johann Mettler. Dit volg twee omstrede stemme wat daartoe gelei het dat Mettler voorlopig geskors is en die hoof finansiële beampte, Gareth Mnisi, wat van tendermanipulasie beskuldig word, weer aangestel is. Die VF Plus sê die Openbare Beskermer moet ook moontlike politieke inmenging en die gedrag van individuele raadslede wat die besluit teen Mettler ondersteun het, ondersoek.
# Die Pakistanse bemiddelaar sê onderhandelinge tussen die VSA en Iran duur voort, ondanks toenemende aanvalle in die Midde-Ooste. Dit volg terwyl die konflik uitbrei, met die VSA wat die week saam met Saoedi-Arabië Iran-gesteunde magte in Irak aangeval het. Minstens 20 mense is dood en 32 gewond. Gisteroggend het Jordanië berig hulle het vir die tweede agtereenvolgende dag inkomende Iranse missiele onderskep. Pakistan se woordvoerder vir Buitelandse Sake, Tahir Andrabi, sê onderhandelinge oor die Straat van Hormoes duur voort:
# Rugby: Die wag vir ‘n behoorlike All Black-toer is na drie dekades verby. Die span word vanmiddag amptelik verwelkom op die Kaapstad-stadion, waar die toer volgende Vrydag teen die Stormers afskop. Nieu-Seeland speel ook teen die Haaie, die Bulle en die Leeus, drie toetse teen die Springbokke en ‘n vierde in Baltimore, Amerika. Die laaste keer dat die All Blacks ‘n week-wedstryd in Suid-Afrika verloor het, was teen Vrystaat in 1976.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-816-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-110-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 91-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….