Nuus 06:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 17 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra die ANC-regering om diplomatieke kanale met Israel en Palestina te behou
# Jacob Zuma dien aanvullende beëdigde verklarings in om hoofregter Raymond Zondo se aanstelling ongrondwetlik te laat verklaar
# En krieket, Australië klop Suid-Afrika om die Wêreldbeker-eindstryd vir die agtste keer te bereik
# Die DA sê dit is noodsaaklik vir Suid-Afrika om diplomatieke kanale met beide Israel en Palestina te handhaaf. Parlementslede het gister ‘n mosie van die EFF gedebatteer waarin die regering gevra word om alle diplomatieke bande met Israel te verbreek, oor sy aanvalle op die Palestynsbeheerde Gaza. Emma Louise Powell van die DA sê die ANC se besluit om diplomate uit Tel Aviv te onttrek, en die EFF se mosie, sal bloot die land se vermoë verminder om aanspreeklikheid in die streek te eis en by te dra tot ‘n vinnige en vreedsame oplossing vir die afskuwelike oorlog.
Intussen glo die IVP isolasie in ‘n tyd van oorlog is nie ‘n oplossing vir Suid-Afrika nie. Die party het gereageer op ‘n mosie wat die EFF voor die Parlement gebring het om die Israelse ambassade in Suid-Afrika te sluit. Die mosie is gister in ‘n oop vergadering van die Nasionale Vergadering gedebatteer, maar daar sal op ‘n latere datum gestem word. Die IVP-parlementslid Mkhuleko Hlengwa het aangevoer ‘n sluiting van die ambassade is teenproduktief vir die land se oproep tot vrede:
Speel klankgreep: ENG-HlengwaOnEmbassy
# Oudpresident Jacob Zuma het aanvullende beëdigde verklarings ingedien om die aanstelling in April 2022 van regter Raymond Zondo as hoofregter tersyde te laat stel. Die JG Zuma-stigting beweer Zondo se aanstelling was irrasioneel omdat president Cyril Ramaphosa die advies van die Regterlike Dienskommissie geïgnoreer het. Die Kommissie se voorkeurkandidaat vir aanstelling was Mandisa Maya wat nou adjunkhoofregter is. Die stigting sê dié regsuitdaging sal Ramaphosa die geleentheid gee om sy optrede te regverdig. Indien hy dit nie kan doen nie moet die aanstelling ongrondwetlik verklaar en tersyde gestel word.
# ‘n Vrou wat verdink word van moord op haar familie om voordeel te trek uit versekeringseise, verskyn vandag in die Landdroshof in Mmabatho, Noordwes, op aanklag van moord. Die 49-jarige is in Centurion, Gauteng, in hegtenis geneem ná ‘n intelligensie-operasie wat die polisie gister in samewerking met ‘n versekeringsonderneming gelei het. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê daar word ook ondersoek ingestel na die dood van die verdagte se seun, man en twee dogters, wat ‘n patroon van versekeringsbedrog aan die lig bring:
Speel klankgreep: ENG MatheOnInsurance
# Krieket: Dit was weereens ‘n hartseer dag vir Suid-Afrika in ‘n Wêreldbeker-halfeindstryd nadat hulle ‘n nederlaag van drie paaltjies teen Australië gely het. ‘n Heldhaftige honderdtal deur David Miller het die Proteas gehelp om ‘n beskeie maar mededingende totaal van 212 te bereik nadat hulle eerste gekolf het. Australië het in antwoord hierop blitsvinnig begin met Travis Head wat 62 gemoker het voordat hulle na 137 vir vyf teruggesak het. Kaptein Pat Cummins en Mitchell Starc kon egter na ‘n harde stryd die wenlopies aanteken met nog 16 balle oor. Die Protea-kaptein, Temba Bavuma, sê hy is trots op hoe die span tot die einde geveg het:
Speel klankgreep: ENG BavumaOnFight
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-441-dollar-4-sent. Die prys van goud is een-duisend-862-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-50-sent per vat.
# En ten slotte, Mej. Heelal Suid-Afrika Bryoni Govender is aangewys as een van die top tien silwerfinaliste in Mej. Heelal 2023 se Voice For Change. Haar voorspraakveldtog Her Way Out is daarop gemik die stryd namens vroue oral op te neem en hulle oor hul wetlike regte op te voed. Die drie Voice for Change-goue wenners sal die naweek tydens die Mej. Heelal-eindstryd in El Salvador aangekondig word. Hulle sal elk ‘n kontantprys van 218- duisend-rand ontvang. Mense kan op die Miss Universe-webwerf vir Govender stem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….